--> -->
Spyskaart +

ANC se grondplafon irrasioneel en ’n politieke dagdroom

Januarie 30, 2015 deur Alet Rademeyer

Die ANC se plan om grondeienaarskap te beperk tot 12 000 hektaar of twee plase per persoon, is onsinnig, irrasioneel en onaanvaarbaar.
AfriSake het sy stem by die van die georganiseerde landbou gevoeg en die aankondiging vandeesweek deur Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, skerp veroordeel.
Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriForum, sê ʼn plafon op grondbesit kan die voorloper wees van beperkings op enige ander bates. “Dit is die logiese gevolgtrekking as die ANC hul nuutste beleidsbesluit oor grondhervorming gaan deurvoer. Die voorstel kan in beginsel van toepassing gemaak word op byvoorbeeld kapitaal, residensiële eiendom en roerende eiendom.”

Volgens Jansen van Rensburg is die ANC se beleidsoorweging in die verband irrasioneel en arbitrêr. ‟12 000 hektaar grond in die Noord-Kaap verteenwoordig byvoorbeeld nie dieselfde produktiwiteitsvlak en waarde as 12 000 hektaar grond in Gauteng nie.”
“Die ANC se denkfout lê in hul oortuiging dat ʼn mens ongelykheid kan aanpak deur beperkings op eiendomsreg te plaas, terwyl die eintlike uitdaging ʼn gebrek aan besitreg is.
“Niemand gaan uit armoede opgehef word deur ’n plafon op grondbesit te plaas nie. Die staat behoort eerder informele nedersettings te formaliseer en volle besit van HOP-huise aan individue oor te dra.”

Volgens Jansen van Rensburg verstaan die ANC nie dat eiendomsreg ʼn fundamentele reg is wat nie beperk behoort te word nie. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis het die staat as instelling telkens individue en gemeenskappe, ongeag ras, se eiendomsreg vervreem. Hierdie nalatenskap kan nie deur nuwe vorme van onteiening en beperkings op eiendomsreg besleg word nie.”
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen dit is duidelik dat die ANC geen benul of kennis van landbou of boerdery het nie.

“Die perk van 12 000 hektaar is duidelik ’n duimsuig-oefening waarby die ANC sonder enige wetenskaplike begronding of navorsing uitgekom het.”

“Die voorstel is totaal belaglik as in ag geneem word dat ’n plaas in die karoo byvoorbeeld glad nie met een in die Franschhoek-vallei vergelyk kan word nie. Elke plaas of stuk grond moet op grond van verskeie faktore beoordeel word.”
Van Zyl sê die ANC se aankondiging moet gesien word teen die agtergrond van die impak wat die EFF op die party se steunbasis het. “Die EFF is besig om ANC-lede weg te rokkel wat nou tot ondeurdagte besluite soos die lei.”

Van Zyl meen grondbeperking is ’n doodskoot vir die land se ekonomie. “Ons is besig om van ’n stelsel met privaatreg en kapitalisme na gesentraliseerde sosialisme te beweeg.”
Van Zyl se raad aan boere is dat hulle moet voortgaan om maksimaal te boer en wins te maak. Hy het hulle aangemoedig om by TLU SA aan te sluit sodat die regering hul stem kan hoor.

Johannes Möller, president van Agri SA, sê die ANC se standpunt dat die besit van plaasgrond tot twee plase per eienaar asook ’n maksimum van 12 000 hektaar beperk moet word om grondverdeling te bespoedig, is vir die landbousektor totaal onaanvaarbaar en kan die ekonomie en verbruikers tot groot nadeel strek.

Hy meen die aankondiging bring die geloofwaardigheid van die huidige raadplegingsproses tussen mnr. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, en rolspelers in die bedryf oor ’n pakket van praktiese maatreëls om van grondhervorming ’n sukses te maak, in die gedrang.
Volgens Möller lyk dit of die 50/50-herverdelingsvoorstel wat verlede jaar groot omstredenheid ontlok het weer besig is om as beleidsraamwerk te herleef.