Spyskaart +

ANC moet van Tshwane-burgemeester ontslae raak – AfriSake

Julie 10, 2015 deur Alet Rademeyer

Die kop van Kgosientso Ramokgopa, Tshwane-burgemeester, moet rol.
Só meen Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake.
Die beroep kom ná onthullings die week dat beide Ramokgopa en Jason Ngobeni, munisipale bestuurder, deeglik daarvan bewus was dat die Tshwane-metroraad se slim-kragmeterkontrak met PEU Capital totaal onwettig was.

Dit het aan die lig gekom dat Ramokgopa en die stadsbestuurder in 2013 deur die nasionale tesourie en die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, gewaarsku is oor dié omstrede kontrak en dat hulle nie geluister het nie. Gordhan het gesê die kontrak voldoen nie aan die toepaslike wetgewing nie omdat daar nie ’n billike en deursigtige verkrygingsproses was nie.

Die DA het vandeesweek gesê die feit dat Ramokgopa versuim het om die metroraad oor die onwettigheid van die kontrak in te lig en die nodige dokumente aan die raad voor te lê, kom daarop neer dat hy die raad opsetlik mislei het. Hierdeur is die raadslede onwetend betrek by ’n onwettige en ongrondwetlike transaksie. Dié gebeure stel goeie gronde vir ’n mosie van wantroue.
Volgens die DA kom die weerhouding van die inligting neer op ’n baie ernstige oortreding waarvoor die oortreders selfs tronkstraf opgelê kan word. Die party gaan ingevolge die gedragskode vir amptenare die stadsbestuurder van wangedrag aankla, terwyl strafregtelike klagte ook oorweeg word.

Jansen van Rensburg het gesê as die ANC ernstig daaroor is om korrupsie hok te slaan, moet Ramokgopa van sy pos onthef word.
AfriSake het einde Desember ’n hofaansoek teen die metroraad gebring waarin die geldigheid van die kontrak en die prosedures wat gevolg is, bevraagteken is. ’n Hersieningsaansoek van die kontrak het daartoe gelei dat die kontrak met PEU gekanselleer is. “Ten spyte hiervan het hierdie kontrak belastingbetalers meer as R800 miljoen uit die sak gejaag. Dit is een van die grootste korrupte kontrakte op plaaslike regeringsvlak sedert 1994,” meen Jansen van Rensburg.
Hy het gesê die sakeregte-waghond sal binnekort nuwe feite oor die saak voor die hof te bring.

In die stadium is die PEU-kontrak vervang met ’n uitfaseringsooreenkoms, wat belastingbetalers in die volgende 6 maande ’n verdere beraamde R400 miljoen uit die sak gaan jaag. “Ons doel met die regsproses is om hierdie betalings te verhoed.”
Ramokgopa het onlangs erken dat daar nooit ’n tenderproses gevolg is nie en dat die kontrak toegestaan is op grond van ’n benadering waar “mense uitgenooi is om met idees vorendag te kom oor hoe die stad geld kan spaar met die invordering van dienstegelde”.
Hy het ’n aanvallende houding teenoor AfriSake gehad en die organisasie daarvan beskuldig dat hulle PEU deur die hofproses “beledig” het en dat dié verskaffer eintlik baie “kreatief en innoverend” is.

Sien AfriSake se webblad hier