|

ANA-toetse se uitslae is belangrik, sê AfriForum

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Dit is skokkend dat al die moeite en koste wat op die ou einde aan die 2015 nasionale assesseringstoetse (ANA) gekoppel was, tot ʼn groot mate vergeefs was.”
So sê Alana Bailey, adjunk uitvoerend hoof van AfriForum, na afloop van die departement van basiese onderwys se aankondiging dat die uitslae van dié toetse nie meer bekend gemaak sal word nie.

Die stryd rakende die ANA-toetse het reeds in September 2015 begin toe verskeie onderwysvakbonde teen dié toetsproses geskop en dit geboikot het. Die departement het sowat R200 miljoen aan die toetse bestee en het ondanks die boikot hiervan skole wat reeds die toetse afgelê het, aangemoedig om die uitslae intern te gebruik om leemtes te identifiseer.

“Dis goed en wel om te sê skole wat dit geskryf het, moet die uitslae intern gebruik, maar in die praktyk gaan die skole wat juis deur die uitslae tereggewys moes word, nou mos nie die moeite doen om dit te gebruik nie,” sê Bailey.
Sy meen dat die effektiwiteit van die toetse belemmer word deur nie die resultate bekend te maak nie.

“Aan die een kant sit ons met die Gautengse LUR, Panyaza Lesufi, wat lyste wil maak waarop skole van goed na sleg gerangskik word, aan die ander kant word rondgeval met ʼn gestandaardiseerde toetsmetode soos hierdie.”
Sy sê voorts dat hierdie toetsing noodsaaklik is en hoop dat die gesprekke tussen die belanghebbendes en die departement ʼn aanvaarbare, betroubare metode oplewer waarvolgens dit in die toekoms kan geskied.

“Dit is nodig om disfunksionele skole geïdentifiseer en verantwoordbaar te hou. Hierdie proses mag nie weer verander in nog ʼn wyse waarop sekere onderwysvakbonde die departement gyselaar hou en net verder skerm vir lede in disfunksionele skole nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het aan Forum Nuus gesê dat die 2015 ANA-toetse problematies was omdat die departement nie volle toesig en beheer oor die toetse gehad het nie, maar sê dat hulle graag in samewerking wil tree met die onderwysvakbonde en skole om ʼn middeweg te vind.

“Sekere skole het voorgestel dat die toetse verwerk moet word. Die departement neem hulle insette in ag en wil in samewerking met hierdie skole die ANA-toetse beredder.”

Volgens Mhlanga is die ANA-toetsproses belangrik om die geletterdheid en syfervaardigheid van Suid-Afrikaanse skoolleerlinge te toets.
“Ons wil deur die ANA-toetste onderwysers blootstel aan beter assesseringsmetodes en dit makliker maak vir provinsies om skole waar daar ʼn tekort of probleem is, te identifiseer.”

Soortgelyke plasings