|

Almal verloor met onderwysdepartement se ANA-chaos

Die jaarlikse nasionale assesseringstoetse (ANA’s) het in ’n nasionale sirkus ontaard waar daar uiteindelik geen wenners is nie.

So meen  onderwyskundiges met wie Forum Nuus gepraat het.

Die ANA’s is na ingryping deur vakbonde, hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), vir hierdie jaar van die baan. Leerlinge van gr. 1 tot gr. 9 moes vandeesweek met die toetse begin wat taal- en syfervaardighede toets.

Sadou, wat die grootste vakbond is en meer as 250 000 lede het, het gedreig dat hulle die ANA’s in elk geval sal boikot en dat hul lede dit nie in klasse sal afneem nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het vroeër gesê die toetse is na onderhandelings en samesprekings met vakbonde tot Februarie uitgestel. Dit wil egter lyk of dit ook nie ’n uitgemaakte saak is dat dit wel vroeg volgende jaar geskryf sal word nie en dat ’n “taakspan”, wat aangestel is om die ANA te herevalueer, daaroor sal besluit. Dié taakspan sal ook moet besluit of leerlinge die toetse elke jaar of elke drie jaar gaan skryf en oor watter inhoud hulle getoets sal word.

Benewens die feit dat leerlinge nou nie die toetse gaan aflê nie, het die departement opdrag gegee dat die meer as 17 miljoen vraestelle onmiddellik na distrikskantore teruggestuur moet word en dat skole dit nie mag gebruik of oopmaak nie.

Onderwyskenners het vanjaar se hantering van die ANA’s ook as ’n enorme vermorsing van geld bestempel aangesien die administrasie daarvan sowat R200 miljoen beloop.

Prof. Jan Heystek, onderwyskundige verbonde aan die Noordwes-universiteit,  meen geweldig baie geld en tyd is met die afstel van die ANA’s gemors.

Hy meen egter mense het die volste reg om vrae oor die ANA’s te vra aangesien dit wil voorkom asof die doel daarvan misluk het. “Die departement wou inderdaad leerlinge se vaardighede toets om te bepaal op watter peil hulle is. Die toetse het talle probleme met onderwys en die onderrigstelsel uitgewys en die dilemma is dat die departement nie met oplossings hiervoor vorendag kon kom nie.

Heystek het egter sy kommer uitgespreek oor die inmengingsrol wat Sadou hierin gespeel het en meen dit dui daarop dat die vakbond te veel mag het om by die stelsel in te meng.

Heystek het ook daarop gewys dat die chaos met die ANA’s weer eens voorheen benadeelde kinders wat in swak, wanfunksionele skole is, verder benadeel. “In skole waar onderwysers weet wat van hulle verwag word en weet hoe om hul werk te doen, sal die afstel van die ANA’s geen dramatiese impak hê nie. Dis egter in skole waar die departement gesien het leerlinge se prestasies swak is, waar leerlinge weer aan die kortste end trek. Die vraag is wat het die onderwysdepartement die afgelope jare gedoen om onderwysers in dié skole op te lei of te ondersteun om kinders te kan help.”

Nog ’n onderwyskenner meen die afstel van die ANA’s is nie net sleg nie. “Die dilemma is dat onderwysers, veral in swak skole, begin het om kinders as’t ware vir die toetse af te rig in ’n poging om hul uitslae beter te laat lyk. Dit het tot gevolg gehad dat baie tyd aan die bemeestering van bepaalde inhoud gegaan het, terwyl onderwysers agterweë gelaat het om die res van die kurrikulum behandel te kry.”

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het gesê die land gaan tussen 2015 en 2017 sowat R647 miljard aan basiese onderwys bestee. “Dit skep die illusie dat die gehalte van onderrig toenemend verbeter, terwyl baie van die geld egter weens wanbesteding verlore gaan. Die uitstel van die ANA’s is ’n goeie voorbeeld hiervan.”

Bloem meen die uitstel van die ANA’s wys dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en haar departement in werklikheid deur onetiese onderwysunies soos Sadou beheer word. “Dit is boonop verregaande om te dink dat miljoene rande aan ANA-vraestelle bestee is en dat skole dit nou nie eens vir hersiening of oefeninge mag gebruik nie.”

Bloem het gesê die gevolg van die wanaanwending van fondse, die invloed van vakbonde soos Sadou en die afstel van die ANA’s is dat die meerderheid leerlinge wat uit die onderwysstelsel kom nie in staat is om hul in die arbeidsmark of by tersiêre instellings te handhaaf nie.

Soortgelyke plasings