--> -->
Spyskaart +

Allesverloren of Volmoed?

Maart 15, 2018 deur Admin

Deur Alana Bailey

Wanneer mense name vir hul huise of plase gee, raak hulle ongelooflik skeppend. ’n Droewige Afrikaanse plaasnaam is Allesverloren. Daarteenoor staan Volmoed – die uiters inspirerende naam wat te sien is op een van die ingeskrewe foto’s vir AfriForum se Tinteltong Toekennings van 2018.

Die twee name laat my dink aan die taaltoneel aan die begin van 2018. Ons was nog besig om die Konstitusionele Hof se meerderheidsuitspraak ten gunste van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se eentalige Engelse beleid te bestudeer, toe bars die sogenaamde taalherrie by die Hoërskool Overvaal los, waar 55 kinders wat Engelse onderrig verlang, toegang tot die skool geweier is – ten eerste omdat die skool vol is, en tweedens, omdat dit ’n eentalige Afrikaanse skool is. Te oordeel aan kommentaar in die uitspraak, het die onderwysdepartement skynbaar gedaal tot die vlak om selfs amptenare tot regsverydeling te intimideer om die skool te probeer dwing na parallelmediumonderrig en toe nog ook die gemeenskap gepolariseer met die bewering dat die skool se besluit oor Afrikaner-bevoorregting gaan.

Nóg die een, nóg die ander is egter rede om die Afrikaanse taalplaas Allesverloren te noem.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak is belangrik, want:

  • Dit was nie ’n eenparige uitspraak nie – regters Froneman, Pretorius en Cameron het ander insigte in ’n minderheidsuitspraak gelewer;
  • Dit illustreer dat sommige regters van dié hof die Grondwet suiwer as instrument tot transformasie behandel, in plaas daarvan om dit te gebruik om die menseregte (insluitend die taalregte) van Suid-Afrikaners te bevorder;
  • Dit is die eerste uitspraak in die land op hierdie hoogste vlak oor taalregte in onderwys – omdat alle nasionale regsremedies hiermee nou uitgeput is, gee dit aan ons die geleentheid om die saak ook te internasionaliseer; en
  • Nog selde het soveel uiteenlopende kommentators, regskenners en taaldeskundiges kommentaar oor ’n uitspraak gelewer. Die saak het dus nuwe energie aan die debat oor taalregte toegevoeg. Baie van die kommentaar sluit ook deeglik begronde kritiek in, iets waarvan die regters moet kennis neem – des te meer omdat dit nie net uit die AfriForum- of Solidariteit-dampkring kom nie. Talle kom tot die gevolgtrekking dat nog meer regsaksie oor taal in die nabye toekoms gaan volg en dat dit nodig is. Dit maak ook ’n einde aan taalapologete se uitsprake dat “’n mens nie hof toe moet hardloop nie” of dat “iemand wat hof toe gaan, alreeds verloor het”. ’n Hof is net so ’n belangrike instrument ter bevordering van taalregte as wat mediadekking, navorsing en drukgroepvorming is. Daarsonder gaan die ander beplanningsfunksies van taal soos prestige-, onderrig- en korpusbeplanning ook nie suksesvol kan voortgaan nie.

Wat die kwessie van die Hoërskool Overvaal betref, is die ligpunte dat:

  • ’n Groot gedeelte van die publiek nie meer val vir foefies nie – hulle besef LUR Panyaza Lesufi en kie gebruik taal en ras as rookskerm vir hul eie onbevoegde bestuur, onvermoë om skole te bou en rassistiese agendas; en
  • Al meer stemme uit al meer gemeenskappe voorspraak doen vir die reg tot moedertaalonderrig in Suid-Afrika, nie net in laerskole nie, maar ook in sekondêre en tersiêre onderrig.

Omdat AfriForum se aksies ter bevordering van taalregte oor die algemeen, en Afrikaans in die besonder, nog nooit om bevoorregting en ’n kultuur van beregtiging (entitlement) gegaan het nie, maar om die beginsel van erkenning en respek vir ons taal soos wat ons aan ander tale gun, is dit vir ons maklik en aangenaam om nou breër saam te werk met ander mense wat standpunt inneem teen die afdwinging van ’n eentalige Engelse kultuur in die land.

Ons gaan dus ook vol moed met ons beplande litigasie voort. Van die regsaksies wat AfriForum in 2016 ter behoud van Afrikaanse onderrig by universiteite onderneem het, is daar nog een proses oor, naamlik die saak oor die behoud van Afrikaans as medium van onderrig by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).  Ons voel baie sterk oor hierdie saak wat vanaf 19 Maart 2018 op die hofrol van die Noord-Gautengse hoë hof verskyn. Die redes hiervoor is:

  • As korrespondensie-instelling kan daar in die geval van Unisa geen sprake van segregasie in klasse of spanning op die kampus wees nie. Die hof sal dus gedwing wees om op ’n meer suiwer basis uitspraak oor die taalregte te lewer as wat die geval met die UV se taalbeleid was;
  • In 2016 was daar tussen 20 000 en 30 000 studente wat gekies het om modules in Afrikaans aan Unisa te volg. Dit is ’n enorme groot groep studente; en
  • Die aard van die studente wat aan Unisa studeer, verdien ook spesiale aandag. Baie van hulle woon in afgeleë gebiede of selfs buite Suid-Afrika, en moet hulself verder bekwaam met die oog op ’n volhoubare loopbaan. Daar is geen ander Afrikaanse opsie vir hulle nie en baie beperkte ander studie-opsies oor die algemeen. Van die amptenare en andere op die platteland werk in totaal Afrikaanse werksomgewings en het hulle lewe lank nog min professionele blootstelling aan Engels gehad. Hulle het ook nie behoefte aan Engels nie, want hulle werksomgewing of kliënte is Afrikaans. Dit is hierdie studente en gemeenskappe wat deur Unisa in die steek gelaat word met ’n keuse vir eentalige Engelse onderrig.

Ten slotte is dit nodig om vinnig ’n paar persepsies te ondersoek wat oor AfriForum se taalaksies geld:

  • AfriForum storm nie net hof toe nie, maar neem aan letterlik honderde inisiatiewe deel om taal te bevorder en met alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika te gesels. Ons regsaksies oor taal by openbare Suid-Afrikaanse universiteite is deur jare se gesprekke met en voorleggings aan politici, staatsdepartemente, universiteitsowerhede, personeel en studente voorafgegaan;
  • Ons regspanne in hierdie sake sluit van die beste regslui in, onder andere advv. Johan du Toit, Gretha Engelbrecht, Albert Lamey, Jerry Merabe, Wim Trengove, Martin Brassey en Alfred Cockrill;
  • Ons “mors nie geld waarmee ons eerder ’n privaat universiteit kon bou” nie – AfriForum het nog altyd met regslui oor koste onderhandel. Verder kry ons steun van onder andere die Trust vir Afrikaanse Onderwys met ons regsaksies. In totaal is die uitgawes ook van so ’n omvang dat ons dalk twee of drie goeie dosente vir ’n jaar by ’n universiteit sou kon aanstel daarmee – dit is dus hoegenaamd nie genoeg om ’n instelling volhoubaar te vestig nie; en
  • In geen regsaksie het ons al ooit ’n reg gevra wat ander uitsluit, of wat ons nie vir ander taalsprekers gun nie.

Niks in die lewe wat die moeite werd is, kan sonder werk en opoffering bereik word, of behou word sonder om standpunt daaroor in te neem nie. Dit is wat AfriForum met ons regsaksies en ander taalprojekte doen – vol moed, want dit is hoe alles gewen kan word.

Ten slotte is dit nodig om na ’n paar van die publikasies wat die afgelope ruk oor taal in Suid-Afrika verskyn het, te verwys (alfabeties volgens voorname gerangskik):