Alberton-gemeenskap trek een van ontsnapte gevangenes vas

 

AfriForum se Alberton-buurtwag het Woensdagaand omstreeks 21:00 in samewerking met die SAPD, SS Crime Alert en die EMPD SWAT-eenheid een van die 20 ontsnapte gevangenes in ’n woonstelblok in Johannesburg-Suid vasgetrek.

Dít volg nadat die polisie foto’s van sommige van die verhoorafwagtendes wat Dinsdagmiddag uit ’n vangwa in Johannesburg ontsnap het, bekend gemaak het. AfriForum se Alberton-buurtwag is deur SS Crime Alert gekontak oor die ligging van Roland Barnard, een van die gevangenes wat ontsnap het, waarna die AfriForum-buurtwag onmiddellik na die toneel ontbied is.
Met die aankoms van die EMPD SWAT-eenheid is die woonstelblok deursoek en die verdagte bo-op die dak van een van die woonstelle gevind en gearresteer.

 “Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe doeltreffend veiligheidsinstansies kan wees as hulle een doel nastreef. Ons bedank graag elke rolspeler wat hierdie arrestasie ’n sukses gemaak het,” sê Louis van Aswegen, AfriForum se Alberton-buurtwagtakvoorsitter.

Soortgelyke plasings