|

Al wat AfriForum vra is eerlike antwoorde rondom NWU-taalbeleid

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, voer vandag aan dat Solidariteit Afrikaners “by die verkeerde begrafnis laat huil” in die lig van die NWU se hersiening van sy taalbeleid.

Kgwadi is ook vinnig om te sê dat die vakbond paranoia onder Afrikaners veroorsaak.

Die ware toedrag van sake is dat Afrikaners, Afrikaanssprekendes en enige ouer van ’n student en studente van die NWU self voel dat hulle in die duister gehou word oor wat die verwikkelinge rondom die hersiening van ’n nuwe taalbeleid vir die NWU is.

Die kommer is nie oordrewe of onvanpas nie in die lig van ’n werkdokument van prof. Robert Balfour, adjunkvisekanselier van onderrig en leer, wat uitgelek het en waarin voorgestel word dat Engels die primêre onderrigtaal word en dat die ander tale hulpmiddels kry.

Die bestuur van die NWU gebruik dieselfde retoriek en kodetaal as ander universiteite wat eenvoudig op die lange duur met Afrikaans as onderrigmedium weggedoen het. Niemand kan ouers en studente kwalik neem wat op hul hoede is wanneer frases soos “funksioneel-meertalige omgewing”, “herstel van taalwanbalanse van die verlede”, “meertaligheid, toegang en integrasie moet bevorder word”, “voldoening aan opvoedkundige sowel as transformasiedoelwitte” en “konstitusionele imperatiewe” gesprekke oorheers sonder dat daar een maal oor die huidige posisie van Afrikaans besin word nie.

AfriForum Jeug is van mening dat die NWU se onlangse verklaring oor die hersiening van die taalbeleid bepaalde aspekte nié duidelik stel nie.

Die jeug is ook bekommerd dat die sogenaamde konsultasieproses wat oor die taalbeleid in die vooruitsit gestel word, net soos die vorige proses rondom die kleurverandering kan uitspeel waar studente en ander belanghebbendes se menings eenvoudig geïgnoreer is.

AfriForum Jeug sê in ’n brief aan Kgwadi dat die universiteit moet besef dit raak gevaarlik wanneer die dryf om inklusiwiteit te bevorder in werklikheid beteken dat ’n sekere bevolkingsgroep van studente uitgesluit en vervreemd begin voel.

Die realiteit van rasseteikens is ʼn probleem wat met inklusiwiteit gepaardgaan. Daar het statistieke onder AfriForum Jeug se aandag gekom dat rasseteikens vir wit studente vir 2019 op die Mafikeng- en Vaal-kampusse onderskeidelik 10% en 15% is en AfriForum Jeug wil weet hoe hierdie teikens konsekwent geïmplementeer gaan word.

AfriForum Jeug kry die indruk dat Afrikaans die groot hekkie op die Pukke-kampus is en vind dit moeilik om te verstaan aangesien die NWU rofweg uit 70 000 studente bestaan en die tweede grootste universiteit in Suid-Afrika is, naas Unisa. Dit beteken dat daar tans minder as sowat 18 000 studente in Afrikaans onderrig ontvang en dat meer as 75% van alle NWU-studente dus hul onderrig in Engels ontvang. Hierdie selfde statistieke dui ook daarop dat die NWU die mees getransformeerde historiese Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika is. Die NWU is die tersiêre instelling met die tweede meeste swart graduandi in die land.

Die vrae waarop AfriForum Jeug graag antwoorde wil kry, is:

  • Is daar ʼn toekoms vir Afrikaans as primêre onderrigtaal op die Pukke-kampus?
  • Wat is die moontlikheid dat die huidige taalaanbod aan die NWU eerder uitgebrei kan word deur nóg taalkeuses te ontwikkel en daarby te voeg?
  • Is koshuislewe en studentelewe op die Pukke-kampus nog veilig of gaan dit vernietig word soos op al die ander kampusse waar die onderrigtaal slegs Engels geword het?
  • Hoekom moet een kampus sy identiteit totaal en al verloor deur gelykgestel te word met die ander twee kampusse in die NWU-struktuur?
  • Is daar op die Pukke-kampus nog enigsins ʼn plek vir Afrikaanse studente ongeag hulle ras?
  • Hoe streng gaan rasseteikens op die Mafikeng- en Vaal-kampusse gereguleer word en hoeveel aansoeke van wit studente gaan op hierdie kampusse nodig wees om aan die teikens wat aan die spesifieke kampusse gestel is, te voldoen?
  • As die Mafikeng- en Vaal-kampusse nie daardie teikens bereik nie, word daardie plekke wat vir wit studente uitgesit is ongevul gelaat?
  • Is die NWU bereid om ʼn verlies aan inkomste te ly as gevolg van die feit dat rasseteikens bepaal dat spesifieke plasings in koshuise daartoe kan lei dat ʼn koshuis nie gevul kan word nie omrede daar nie genoeg wit studente in daardie koshuis is nie?
  • Is die NWU-bestuur bereid om hulself skriftelik te verbind tot die beskerming en uitbouing van Afrikaans by dié universiteit en veral op die Pukke-kampus?

Soortgelyke plasings