|

Al meer nuwe tegnologie in Afrikaans beskikbaar

Google het pas bekendgemaak dat hulle vertalingstoepassing wat oombliklike vertaling moontlik maak, nou in nog meer tale gebruik kan word.  Dit sluit Afrikaans in!

Met die toepassing kan jy jou slimfoon se kamera op teks in ’n ander taal rig, en dit sal die teks dan dadelik in jou taal van keuse vertaal.  Dit is veral vir reisigers wat dalk instruksies of padborde moet ontsyfer, van groot hulp.

Soms sukkel mense om vas te stel watter taal op die bord of kennisgewing verskyn wat hulle wil vertaal, maar die toepassing is nou só gevorderd, dat jy eers kan vra dat dit die taal bepaal, en dan die vertaling kan bekom.  Voorheen kon enige taal net in Engels vertaal word, maar nou kan kruisvertaling wat Engels uitsluit, plaasvind.

Daar kan uit 88 tale in meer as ‘n honderd tale vertaal word.  Dit is opwindend dat hierdie klein groepie uit die wêreld se ongeveer 7 100 tale, Afrikaans insluit en wys hoe Afrikaanse IT-deskundiges moeite doen om met vertaling tegnologie in ons eie taal toeganklik te maak.

Die toepassing is nog nie geheel en al foutvry nie, maar deurlopende ontwikkeling en verbetering verseker dat foute al minder word.

Een van die oorlewingsvereistes vir tale in die 21ste eeu is dat nuwe tegnologie ook daarin toeganklik moet wees.  Hierdie aankondiging is dus van groter betekenis as net vir diegene wat die toepassing gaan gebruik – dit raak die oorlewing van Afrikaans direk.

AfriForum bedank almal wat betrokke is by vertaling en ontwikkeling om Afrikaans op hierdie wyse in te sluit.  Ons raai ook lede aan om gereeld te kyk watter nuwe funksies en toepassings in Afrikaans beskikbaar geraak het.  Soms mag ’n funksie of program dalk nog nie in jou taal van keuse bestaan nie, maar moenie moed verloor nie.  Wag ’n paar weke en probeer weer, want die ontwikkeling geskied vinnig.  Hoe hoër die aanvraag vir Afrikaanse programmatuur ook is, hoe meer regverdig dit die hulpbronne wat vir die vertaling nodig is.

Soms klink ’n program of toepassing se taal dalk vreemd, maar laat ons maar eerlik wees, die eerste keer wat ons terme soos “inbox” en “default” gehoor het, was dit ook vreemd.  Elke terrein het ’n unieke woordeskat wat bemeester moet word – Afrikaans in die ekonomie, teologie, regswêreld en mediese veld kan ook maar soms raar klink, nie omdat die terme swak vertaal of laf is nie, maar bloot omdat ons nog nie gewoond daaraan is nie.

Moedig daarom vandag nog vriende en familie aan om rond te speel en te kyk watter funksies hulle alles op hulle slimfone of rekenaars in Afrikaans sal kan gebruik.

Soortgelyke plasings