Akademiese bedrywighede en aktiwiteite by Hoërskool Overvaal gaan voort; situasie onder beheer


Alle akademiese bedrywighede en skoolaktiwiteite by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging gaan tans ononderbroke voort ondanks ’n klein groepie van sowat 40 betogers (hoofsaaklik EFF- en ANC-lede) wat voor die skool se hek sing en dans.
Dié betoging spruit uit die Noord-Gautengse hoë hof se beslissing om 55 leerders toelating tot dié skool te weier. Die hof het in die skool se guns beslis en die Gautengse departement van onderwys se opdrag dat 55 Engelssprekende leerders by dié skool toegelaat moet word, ter syde gestel.
Hoërskool Overvaal het hom na afloop van die departement se opdrag tot die hof gewend omdat die skool reeds vol is en nie oor die nodige hulpbronne beskik om die 55 leerders te akkommodeer nie.
Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is die AfriForum-buurtwag, Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteit op die toneel en is die situasie onder beheer.

“Die leerders en onderwysers is opgewonde oor die jaar wat voorlê en tans word geen skoolaktiwiteite en akademiese bedrywighede deur die betoging buite die skool ontwrig nie.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, is glo op pad na die skool toe. AfriForum sal die situasie moniteer.

Soortgelyke plasings