|

Aitsa! Kry vandag jou kaartjie vir ’n musiekskouspel sonder weerga

Deur Hennie Koortzen

Afrikaans is die taal waarin ons dink, die taal waarmee ons ons gedagtes op die mooiste denkbare wyse kan weergee. Die klank van Afrikaans val altyd sag op die oor en saam met die regte note sorg dit vir meer as vermaak, dit streel die gemoed, laat ’n traan oor die wang rol en sit soms daardie broodnodige huppel in die stap! Afrikaanse musiek sal altyd deel van ons bestaan en ons menswees bly en daarom bied Pretoria FM die Aitsa musiektoekennings op die 16de Oktober aan om kunstenaars, liriekskrywers en vervaardigers te vereer vir hulle bydrae tot Afrikaanse musiek.

Te midde van druk en probleme om borge te kry, bly ons by ons aanvanklike standpunt dat die geleentheid deursigtig en geloofwaardig moet wees en dat ons nie gaan toelaat dat daar aan ons voorgeskryf word ten opsigte van inskrywings of deelname tydens die toekenningsgeleentheid nie. Die lied ‘Die Land’ is in meer as een kategorie ingeskryf en dit is nou reeds algemene kennis dat Steve Hofmeyr een van ongeveer twintig van die land se beste Afrikaanse kunstenaars op die verhoog gaan wees. Dit geld egter ook vir elke ander kunstenaar, liriekskrywer en vervaardiger wat ’n produk van hoogstaande gehalte wou inskryf. Ikone wat diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf en Afrikaanse kuns en kultuur getrap het, sal die aand erkenning vir hulle bydraes kry. Die grootste platemaatskappye in die land ondersteun die geleentheid en ’n wêreldklasvertoning wag op almal wat deel daarvan by die Moreleta-ouditorium gaan wees!

Pretoria FM kan egter nie op sy eie ’n sukses van so ’n groot geleentheid maak nie. Ons het die ondersteuning van elke persoon wat lief is vir Afrikaans nodig om die Moreleta-ouditorium vol te pak en ’n duidelike standpunt in te neem teen almal wat Afrikaans en haar sprekers wil voorskryf. Jou kaartjie vir die Aitsa’s gee jou toegang tot ’n aand wat vir altyd onthou sal word, maar praat ook hard en duidelik namens ons pragtige taal, Afrikaans! Maatskappye of individue wat as borge betrokke wil raak, se bydraes en ondersteuning sal ook groot verskil maak! Kom ons maak die Moreleta-ouditorium binne die volgende paar dae vol! Koop jou kaartjie en moedig families en vriende aan om ook hulle Aitsa-kaartjies by iTickets te koop! Kaartjies is ook by Pretoria FM se kantore by Loftus Park beskikbaar.

Saam haak ons in by ons taal, Afrikaans, en saam maak ons seker dat die note en woorde van Afrikaanse musiek harder en suiwerder as ooit deur almal gesing en gehoor sal word!

Sien jou by die Aitsa’s op 16 Oktober by die Moreleta-ouditorium! Jou kaartjie is gereed by iTickets teen slegs R150!

Hennie Koortzen is die uitvoerende hoof van PretoriaFM.

Soortgelyke plasings