|

AfriVriendelik wil jóú onderneming gratis op sosialemedia bemark

Ondernemings wat op die AfriForum Netwerk geregistreer is, het nou die kans om gratis blootstelling op AfriVriendelik se sosialemedia platforms te kry met die #MyDorp-inisiatief.

Die AfriForum Netwerk (voorheen bekend as Afrikaans-Vriendelik) is ’n aanlyn-databasis van ondernemings wat in Afrikaans dienste lewer en dit word deurlopend uitgebou. Dié ondernemings strek van klein koeksister-tuisbedrywe en organiese velsorgreekse tot gevestigde regsfirmas.

AfriVriendelik wil met sy #MyDorp-inisiatief vir dié besighede wat uniek is aan hul dorp én op die AfriForum Netwerk geregistreer is, gratis erkenning en bemarking op hul sosialemedia platforms gee.

Volgens Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik, is deel van dié inisiatief se fokus om entrepreneurs en kleinsake ondernemings te bevorder. “Die AfriForum Netwerk het onlangs ’n mylpaal bereik en het nou meer 1 000 geregistreerde ondernemings op sy databasis. Dié webwerf en sy sosialemedia platforms is die ideale bemarkingsplatform vir enige onderneming omdat dit soos ʼn gemeenskap funksioneer.”

Die #MyDorp-inisiatief fokus maandeliks op spesifieke streke of provinsies en vandeesmaand fokus AfriVriendelik op besighede in verskillende dorpe in die Wes-Kaap.

Vandag geniet die Bartho Eksteen Wijnskool in Hermanus die aandag op AfriVriendelik se platforms. Dié familie-onderneming is gerig op opleiding in verskeie wynkursusse wat wissel van ’n beroepskeuse buitemuurse kursus vir hoërskoolleerders tot formele Wine & Spirit Education Trust (WSET)-kursusse. Die Wijnskool is ook in 2017 genomineer vir die Tinteltong Toekenning vir beste handelsmerkontwerp.

Indien jou onderneming in een van die #MyDorp-fokusdorpe is (https://www.afrivriendelik.co.za/mydorp/) stuur ’n e-pos na afrivriendelik@afriforum.co.za en verseker jou plek op die AfriForum Netwerk-gids.

Soortgelyke plasings