|

AfriVriendelik se 2018 Entrepreneurskompetisie skop op hoë noot af

Die grootste les wat enige mense in die lewe en in besigheid kan leer, is dat dit nie gaan oor wat na jou kant toe kom nie, maar oor dit wat vanuit jou kom.

Met dié inspirerende woorde het Marnus Broodryk, entrepreneur, skrywer, belegger en spreker, die gaste in die palm van sy hand gehad wat AfriVriendelik se ontbyt in Pretoria bygewoon het waar die 2018 Entrepreneurskompetisie afgeskop is.

AfriVriendelik is ’n eenstopdiens vir alle entrepreneurs en sakeondernemings. Dit bestaan uit vyf inisiatiewe waaronder ’n aanlyn-kletskamer, bemarkingsopleiding, die jaarlikse Tinteltong Toekennings, asook die entrepreneurskompetisie.

Broodryk meen baie mense is te bang om te waag, maar as jy ’n entrepreneur wil wees, moet jy selfvertroue hê en kan jy nie skaam wees nie.

Sy boek 90 rules for entrepreneurs was vanjaar een van die vyf topboeke en meer as 20 000 eksemplare is reeds verkoop.

Broodryk het ’n hele klomp wenke vir nuwe en bestaande entrepreneurs. Een daarvan is dat jy as individu moet bepaal wat sukses vir jou beteken. Vir sommige mense is dit baie geld, vir ander ’n gesonde leefstyl en vir nog ander ’n vervullende gesinslewe.

Ongeag mense se idee van wat sukses is, het die meeste egter een ding in geneem. En dis is dat jy honderd persent oortuig moet wees en geloof moet hê in dit wat jy wil doen en bereik.

Broodryk sê as mense net die heeltyd uitdagings in alles en almal rondom hulle sien, is dit moeilik om tot die insig te kom dat dit eintlik daaroor moet gaan om geleenthede raak te sien. Party mense sien onteiening sonder vergoeding as ’n enorme probleem en uitdaging, terwyl daar weer ander is wat dit as ’n geleentheid beskou.

Volgens Broodryk het ’n mens se sukses baie te make met hoe jy oor dinge dink. “Jou gedagtes word uiteindelik jou realiteit.”

Ander raad wat hy vir entrepreneurs het, is om hulself met individue te omring wat werklik ’n verskil maak. Baie suksesvolle sakelui erken dat hul maatskappye of ondernemings nooit sou wees waar dit is was dit nie vir werknemers en kliënte nie.

Broodryk wys entrepreneurs ook daarop dat geen onderneming ’n eiland is of soos een kan funksioneer nie. Mense moet bereid wees om van mekaar te leer.

Hy het na invloedryke mense soos Jannie Mouton, Christo Wiese, Mark Lamberti en baie ander verwys van wie hy waardevolle lesse geleer het.

Die volgende ontbytsessie vir entrepreneurs is op 5 Oktober in die Wes-Kaap.

Inskrywings vir vanjaar se kompetisie open 12 September en sluit op 8 Oktober 2018. Die publiek kan tussen 9 en 18 Oktober 2018 vir die top-10-ondernemings stem. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die top-10, en die wenner word op 20 Oktober 2018 aangekondig.

Vir meer inligting en om in te skryf, besoek www.afrivriendelik.co.za

Soortgelyke plasings