AfriVriendelik-entrepreneurskompetisie skop af vir 2018


AfriVriendelik, ’n inisiatief van AfriForum, se jaarlikse entrepreneurskompetisie skop vandeesweek af.

Daar is vanjaar twee kategorieë vir deelnemers: een vir eienaars ouer as 18 jaar, en een vir kinders wat nog skoolgaande is, maar reeds met hul entrepreneurstalente woeker. Die enigste ander kwalifiseringsvereistes is dat die onderneming vir langer as ’n jaar reeds handel dryf en diens in Afrikaans lewer.

Sanderien van der Walt, projekkoördineer van AfriVriendelik, is baie opgewonde oor dié kompetisie, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar aktief is. “Daar is groot pryse op die spel! Wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die blootstelling wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens ontvang wye dekking op verskillende sosialemediaplatforms, Maroela Media en Pretoria FM, asook in Forum Nuus en die Forum Tydskrif,” sê Van der Walt.

Die kompetisie word amptelik tydens ’n ontbyt vir entrepreneurs op 20ste September in Pretoria en 5 Oktober in Stellenbosch bekend gestel. Die welbekende entrepreneur Marnus Broodryk sal as gasspreker optree en kaartjies is aanlyn by www.afrivriendelik.co.za beskikbaar.
Pryse op die spel vir die wenner:

  • ’n advertensie in videoformaat vir die onderneming se persoonlike verspreiding op sosiale media, geborg deur Forum Films;
  • ’n webtuiste (splinternuut óf die opgradering van ’n bestaande webwerf) en die gratis gasheerfunksie (web hosting) vir die onderneming se webtuiste deur MyGuru, wat vir een jaar geldig is;
  • hulp met die skep van ’n aanlyn sosiale teenwoordigheid (insluitend ’n handelsmerk, indien die onderneming dit verkies);
  • besigheidsversekering vir ses maande deur Virseker ter waarde van R3 000 per maand;
  • ’n Apple MacBook Air-skootrekenaar;
  • ’n artikel op Forum Nuus en in Forum Tydskrif (meer as 150 000 kopieë word versprei);
  • sosialemediadekking (AfriVriendelik en AfriForum);
  • mediadekking op Maroela Media en Pretoria FM; en
  • Geleentheid vir verdere studies by Akademia.

Entrepreneurs kan aanlyn by www.afrivriendelik.co.za vir die kompetisie inskryf. Die kompetisie strek vanaf 12 September 2018 en inskrywings sluit teen 8 Oktober 2018.

Soortgelyke plasings