| |

AfriVriendelik en Akademia bied saam entrepreneurskompetisie aan

AfriVriendelik neem vanjaar hande met Akademia om die entrepreneur van die jaar aan te wys. Akademia het van 2013 tot 2016 die bekende Sakeplankompetisie aangebied en AfriVriendelik bied sedert 2017 die entrepreneurskompetisie aan. Saam kan dié twee inisiatiewe egter baie meer aan entrepreneurs bied.

Meer as 200 entrepreneurs het reeds aan AfriVriendelik se entrepreneurskompetisie deelgeneem waartydens nagenoeg 3 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem het. Louis Loubser het in 2017 met sy “Tree Hog” gewen, terwyl die dames van Oh-lief in 2018 met die louere weggestap het.

Die vereistes vir vanjaar se kompetisie is effens uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner nou moet voldoen is soos volg:

  1. Die entrepreneur moet al vir tussen twee en vyf jaar handeldryf;
  2. Die produk of diens moet ook in Afrikaans aangebied word (nie net in Engels nie);
  3. Die produk of diens moet mededingend wees;
  4. Daar moet maklike toegang tot die produk of diens wees;
  5. Die produk of diens moet volhoubaar wees;
  6. Dit moet die potensiaal hê om uit te brei;
  7. Die entrepreneur moet geloofwaardig wees;
  8. Die entrepreneur moet van tegnologie soos sosiale media gebruik maak;
  9. Daar moet finansiële beplanning wees; en
  10. Die entrepreneur moet hom- of haarself goed kan bemark.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en AfriForum Netwerk, is baie opgewonde oor hulle derde entrepreneurskompetisie.

“Daar is groot pryse op die spel! Wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die platform wat dit vir die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd versprei op verskillende sosialemediaplatforms, nuusplatforms soos Maroela Media en Pretoria FM, asook Forum Nuus en Forum Tydskrif.”

 

“Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak, en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Ons hoop dat die pryse die wenner en selfs die toptiendeelnemers ’n hupstoot sal gee met hul ondernemings,” sê Van der Walt.

Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie is wat jaarliks groter én beter raak.

“Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot benodig en uitstekende advies van kundiges op die gebied wil ontvang.”

Inskrywings open op 15 Augustus 2019 en sluit op 31 Augustus 2019, terwyl die publiek tussen 5 en 20 September 2019 vir die toptienondernemings kan stem. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die toptien en gee terugvoer tydens sessies. Die wenner word einde Oktober 2019 aangekondig.

Die kompetisie word tydens middagetegeleenthede by die Menlyn Boutique Hotel in Pretoria en die Cavalli-landgoed in Somerset-Wes bekend gestel.

Soortgelyke plasings