|

AfriSake keer betaling van R950 miljoen vir slimkragmeters

Die sakeregte-waghond AfriSake het die Tshwane Metro gister in die hooggeregshof in Pretoria met ʼn dringende hofaansoek gekeer om ʼn R950 miljoen-infrastruktuurfooi vir ʼn slimkragmeterkontrak aan die diensverskaffer Peu Capital te betaal.

Dit volg nadat die stadsraad hul kontrak met Peu Capital, wat die installering van sowat 800 000 slimkragmeters in en om Pretoria behels het, in Mei 2015 gekanselleer het omdat die projek glo te duur geword het. Volgens die kontrak moes Peu Capital 19,5c vir elke rand verbruikte krag ontvang het.

Volgens Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake, het die Tshwane Metro nie in hul begroting voorsiening gemaak vir dié projek nie.

Teen die tyd wat die stadsraad die kontrak gekanselleer het en met ʼn nuwe tenderproses begin het, het die diensverskaffer reeds 12 700 slimkragmeters geïnstalleer wat hul steeds in stand moes hou en bestuur. Hiervoor het die diensverskaffer 9,5c vir elke rand verbruikte krag gekry.

Volgens Pieterse het beide die nasionale tesourie en Pravin Gordhan, toe minister van samewerkende regering, in November 2015 ʼn brief aan die stadsraad geskryf en versoek dat die kontrak met Peu Capital ondersoek moet word, omdat die maatskappy se dienstarief van 19,5c nie ooreenstem met normale markverwantetariewe nie, wat tussen 7c en 9,5c wissel.

“Dié saak gaan oor ʼn maatskappy wat hopeloos te veel geld vra vir ʼn diens wat die munisipaliteit self baie goedkoper kan lewer.”

Die hof het verder beslis dat die oorspronklike kontrak tussen die stadsraad en PEU Capital, die evalueringsverslag en die munispaliteit se begroting aan AfriSake oorhandig moet word sodat die sakeregtewaghond met sy hersieningsaansoek kan voortgaan.

Die hof het gister beveel dat ʼn voorkeurhofdatum oor wanneer die hersieningsaansoek aangehoor moet word, binne drie weke bepaal moet word.

Soortgelyke plasings