|

Afrikaners moet ’n visie anderkant die woestyn hê

Deur Alet Rademeyer

Afrikaners het geen ander keuse nie as om aan te hou droom en aan te hou bou aan ’n toekoms waar hulle vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan woon en werk.

Dit is die sentrale boodskap wat vandag in Pretoria weerklink het waar Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se nuwe boek Vat jou goed en bou! bekendgestel is.

Die boek is ’n versameling van sowat 100 van die opspraakwekkendste rubrieke van dié twee vakbondmanne en strateë wat oor die afgelope twee dekades gepubliseer is.

Buys en Hermann is bekend as meningsvormers wat nie skroom om hul opinies en denkraamwerke eerlik en onomwonde te stel nie. Talle van hul meningstukke oor brandende kwessies soos politiek, vakbondwese, sport, plaaslike en internasionale geskiedenis, regstellende aksie en rassediskriminasie is en word wyd in koerante, op nuuswebwerwe en in tydskrifte gepubliseer.

Buys en Hermann het tydens die bekendstelling verduidelik dat 1994 ’n keerpunt vir Afrikaners was en dat daar toe besef is dat hard en vinnig gewerk moet word aan ’n nuwe werklikheid wat hulle kan inspireer. “Die georganiseerde Afrikaanse samelewing was skielik in die skadu van die politiek en baie organisasies het nie oorleef nie. Ons moes eenvoudig nuut begin dink,” het Hermann gesê.

Dit het tot die herskepping van die Mynwerkersunie tot die hedendaagse Solidariteit en Solidariteit Beweging gelei wat organisasies soos AfriForum, Helpende Hand, Maroela Media, Akademia en Sol-Tech insluit.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vertel van ’n destydse ontmoeting met die SAKP waar die boodskap was: White workers you are on your own.

“Ons het dit verstaan en geweet ons het mekaar nodig. Mense het na ’94 toenemend gefrustreerd en ontevrede oor onreg geraak. Ons het besef ons moet met oplossings kom en kan nie toelaat dat ’n gevoel van verontregting tot ’n slagoffermentaliteit lei nie. Ons het genoeg selfvertroue om nie verontreg en uitgelewer te voel nie, maar eerder op selfstandigheid te fokus.”

Buys het verwys na die belangrikheid van gemeenskapsfederalisme waar gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir kwessies wat hulle na aan die hart lê. “Die vervreemding wat mense ervaar, moet omskep word in inbinding en gebondenheid. Ons moet geleenthede vir mense skep sodat hulle nie emigreer nie.”

Volgens Buys is daar groot druk op gemeenskappe en soos wat organisasies soos Solidariteit en AfriForum groei, moet al meer staatsdienste sonder staatsgeld gelewer word. “Om dit reg te kry, moet die betrokkenheid van mense nog groter gemaak word.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê gemeenskapsfederalisme kom reeds sedert die vroegste tye waar mense die keuse wou hê om vir en oor hulself te besluit. Dis ’n strewe na onafhanklikheid waar mense hul omstandighede kan skep soos hulle wil en waar hulle vry kan wees om vir hulself te besluit. “Gemeenskapsfederalisme is ’n idee van hoop en eintlik lê die redding van gemeenskappe hierin.”

Tydens die bekendstelling is die 100-jarige herdenking van Helpmekaardag wat môre is, ook gevier. Altesame 100 roosbome is aan Afrikaners oorhandig wat steeds bou en Afrikaans op verskeie maniere bevorder.

Die boek is beskikbaar by kraal@kraaluitgewers.co.za

Vir meer inligting skakel 012-880-1953.

Soortgelyke plasings