|

Afrikaners kan by Israel en Nederland leer

Deur Flip Buys

Die verdiepende krisis in Suid-Afrika laat Afrikaners soms voel asof daar geen oplossing moontlik is nie en of ons krisis onoorkombaar groot is.

Tog is daar talle voorbeelde van volke wat in dieselfde of selfs groter krisisse beland het en dit met vlieënde vaandels oorkom het. ’n Besoek aan lande soos Israel en Nederland laat ’n mens dadelik besef dat ander klein volke al groot berge oorkom het en dat daar lesse is wat ons daaruit kan leer.

Die Israeli’s is ’n goeie voorbeeld van ’n volk wat elke denkbare krisis oorkom het en vandag ’n sterk en vooruitstrewende staat is. Die verhaal van die moderne Israel is welbekend, maar hulle suksesverhaal laat ’n mens steeds verstom staan.

Ná die verwoestende volksmoord op die Jode het hulle besef dat geen land se grondwet hulle veiligheid kan waarborg nie en dat ’n eie grondgebied noodsaaklik is. Daar was egter ’n hele paar “Goliats” wat hierdie moderne “Dawids” moes oorkom.

Volkstrek

Die eerste stap was dat hulle miljoene Israeli’s moes oortuig om hulle betreklik voorspoedige bestaan in ander lande prys te gee en sak en pak na ’n dorre onderontwikkelde land moes trek. Benewens die verskillende golwe migrante in die stigtingsjare, het daar ná die val van kommunisme meer as ’n miljoen Jode na Israel getrek.

Volk

Die tweede uitdaging was dat hulle weer ’n volk moes vorm. Die Israeli’s beskou hulself as ’n godsdienstige gemeenskap en nie soseer ’n kulturele een nie. Jode uit die VSA, Europa, Arabiese lande en Oos-Europa moes nou teen wil en dank een volk word. Dit het beteken dat daar mense vanuit elke denkbare ideologie, taal, kultuur en nasionaliteit nou in een volk saamgevoeg moes word wat in vrede saam kon bly.

Land

Die land was onontwikkeld en hulle moes vanuit die woestyn ’n moderne land ontwikkel wat by die res van die wêreld kon kers vashou. Israel is teen 21 900 km² maar net so groot soos die Nasionale Krugerwildtuin en daar woon nou sowat nege miljoen mense. Die reënval is net meer as die helfte van die droër dele van die Karoo, met enkele klein riviere en damme. Genoegsame water was ’n groot probleem wat oorkom moes word.

Ekonomie

Daarby moes hulle ’n moderne ekonomie ontwikkel wat vir miljoene mense werk, dienste en produkte kon gee. Die begin hiervan was die Israelse vakbondbeweging, die Histadrut, wat deur mense soos David Ben Gurion en Golda Meir gestig is. Hulle het Kibbutze begin om mense blyplek, werk en kos te gee. Die Histadrut het ook die leiding geneem om skole, kolleges, hospitale en ondernemings te begin. Die inkomste per kop raak vandag aan ’n hoë $40 000 met ’n werkloosheidskoers van minder as 4%.

Taal

Die volkstrek uit talle lande in die wêreld het beteken dat die aankomelinge verskillende tale gepraat het. Die Jode het die antieke Hebreeus weer tot ’n moderne taal ontwikkel wat net vier ander tale in die vorige eeu kon regkry. Die ander was Afrikaans, Maleis en Hindi. Daarna moes hierdie onbekende taal aan die hele bevolking geleer word en as landstaal gestandaardiseer word.

Veiligheid

Die Israeli’s se ligging in die middel van talle vyandige Arabiese lande het dadelik tot ’n volskaalse inval gelei met hulle onafhanklikheidsverklaring in 1948. Die haastig saamgestelde Israelse weermag het die invallers verjaag en daarna verskeie ander oorloë teen oormagte gewen. Hoewel hulle deur enkele Westerse state soos die VSA bygestaan is, is die Arabiese state ook deur die Sowjetunie en ander lande gehelp. Daarby moes hulle rekening hou met grootskaalse terrorisme-aanvalle op eie bodem, asook talle oorgrensaanvalle deur guerrillas van naburige lande.

Nederland

Die eerste Israelse premier, David Ben Gurion, het tereg gesê dat waar die Israeli’s die woestyn moes oorwin, moes die Nederlanders die see oorwin. Hulle het vir eeue ’n oorlewingstryd gevoer tussen groter bure in ’n Europa wat gereeld in verwoestende oorloë ontplof het. Tog is dit vandag ’n besonder veilige en voorspoedige land.

Afrikaners

Dit is noodsaaklik dat Afrikaners nie vandag vaskyk teen die krisis waarin ons verkeer nie, maar ook na volke soos die Israeli’s en Nederlanders wat in uiteenlopende omstandighede unieke uitdagings aangepak en oorkom het. Hoewel die aard van ons probleme heeltemal verskil, bly dit leersaam om te kyk watter lesse ons van ander lande kan leer. Die belangrikste hiervan is dat ’n volk wat saambly en saamwerk, en verskille, vyande en oënskynlik onoorkombare uitdagings kan oorkom, vry, veilig en voorspoedig aan die anderkant kan uitkom. Dawid kan inderdaad vir Goliat bemeester!

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

*Hierdie artikel verskyn in die nuutste uitgawe van Forum Tydskrif . Om dit aanlyn te lees, besoek www.forumtydskrif.co.za en teken in.

 

Soortgelyke plasings