|

Afrikaners is hier om te bly

Barend Uys, adjunk uitvoerende hoof van gemeenskapsake by AfriForum, het vandag by die burgerregte-organisasie se derde nasionale takkongres gepraat oor die belangrike rol wat ankerdorpe in die toekoms vir lewensvatbaarheid in Suid-Afrika gaan speel.

Uys verduidelik dat daar reeds ’n natuurlike konsentrasieproses is waarvolgens mense van klein dorpe na streekdorpe of groot stede trek en hoewel dié proses meer hulpbronne en ekonomiese groei beteken, sal dit sonder die nodige beplanning en bestuur tot die ineenstorting van die dorp kan lei.

Hy het ook erkenning aan AfriForum se vrywilligers gegee vir hul ingryping en harde werk op plaaslike vlak in hul dorpe. “Julle harde werk om julle omgewing te verbeter, maak van julle hoopskeppers.”

Hy het ook verwys na die verskeie bedrywighede en suksesse van AfriForum-takke, soos buurtwagte en gereelde patrollies, skoonmaakaksies, opknappingswerk en vreedsame optogte.

“Elke tak se werk dra daartoe by dat hul dorp meer leefbaar is. As ons wil, dan kan ons dit self doen, ons is nie van die staat afhanklik nie.”

Met verwysing na die suksesvolle Ons Dorp-projek, wat later in die jaar hervat sal word, het Uys klem geplaas op die belangrikheid daarvan om die regte mense te identifiseer en betrokke te kry.

“Ons gaan toenemend op opleiding vir vrywilligers fokus en sodoende nog meer uitnemende projekte aanpak om te groei van groot na sterk. Getalle maak ons groot, maar betrokkenheid maak ons sterk.”

Uys het ook gepraat oor die noodsaaklike dienste wat in ankerdorpe tot stand gebring moet word soos gehalte-onderrig, veiligheid en gesondheidsorg. Hy het ’n prentjie geskets van hoe die Solidariteit Beweging gaan of reeds besig is om dié plan ’n realiteit te maak deur byvoorbeeld die oprig van Helpende Hand-skenkingswinkels en basiese gesondheidsorgsentrums, Akademia-satellietkampusse, AfriForum-takke en -buurtwagte.

“Hierdie takke en sentrums is ’n bloudruk om volhoubaarheid te bevorder en in ankerdorpe te vestig. Die sukses daarvan hang egter af van harde realiteite op grondvlak en die mense wat betrokke is.”

Hy het ook verwys na die Hanse-verbond, ’n organisasie van Noord-Duitse sakemanne wat tussen die middel van die 12de en die middel van die 17de eeu bestaan het en verskeie Duitse stede oorheers het. Dit is ’n voorbeeld van hoe samewerking van geografiese verspreide groepe tot welvaart kan lei.

“Kom ons slaan ook só die hand aan die ploeg en skep saam hoop vir ons toekoms.”

Soortgelyke plasings