|

Afrikaners as gemeenskap moet na “Vry Stad” kyk

Die reg wat Afrikaners as kultuurgemeenskap het om oor hulself te regeer en selfstandig besluite te neem, is vandag tydens AfriForum se nasionale kongres in Warmbad beklemtoon.

Proff. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, Danie Goosen, voorsitter van die FAK en Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, het die gedagtes van die “Vry Stad”, Republikanisme en volksveelheid toegelig en bespreek.

Goosen het gesê om die geskiedenis van Suid-Afrika te verstaan, moet die geskiedenis van kultuurgemeenskappe verstaan word. Die ANC-heersers verstaan dit egter nie en gebruik net rassebegrippe. “As ons vrede wil hê, moet gemeenskappe ruimte en erkenning kry en nie gekriminaliseer word nie.”

Hy het gesê daarmee word individualiteit nie misken nie. Gemeenskappe en eie individualiteit verryk mekaar en is aanvullend.

Goosen het gesê Afrikaners moet hulself afvra hoe hulle kan reageer teen die staat se vyandskap teen gemeenskappe. Die gedagte van Republikanisme moet uitgeleef word binne huidige dorpe, stede en gemeenskappe.

Malan het verduidelik dat ’n gemeenskap en volk nie net op een goeie dag begin nie. Mense word daarbinne gebore. “Die individu is belangrik, maar sukses en prestasie is afhanklik van die kultuurgemeenskap.”

Volgens Malan kan groeiende selfregering uitgebrei word. Daarom moet die gedagte van die Vry Stad ondersoek word.

Hy het gesê die staat is die vernietiger van volke en gemeenskappe en wil hul onafhanklikheid misken. “Ons leef in ’n abnormale staat waar die staat aan Afrikaners wil voorskryf asof hulle kinders is. Ons moet ons eie gemeenskappe regeer. As jy voorgeskryf of verdruk word, is dit meerderheidsdominansie en nie demokrasie nie.”

Buys het op sy beurt gesê Afrikaners moet die beginsel van volksveelheid hul eie maak. “Afrikaners gaan nooit 100% saamstem nie. Ons hoef egter nie meer te stry oor wie wat in 1992 gestem het nie. Ons moet saamwerk en mekaar ruimte gee om die probleme in 2015 te kan oplos.”

Buys het gesê ’n Vry Stad of Vry Stede moet ontwikkel word, maar terselfdertyd moet Afrikaners sorg dat hulself, hul gemeenskappe en instansies ook suksesvol is.

Soortgelyke plasings