| |

Afrikaanse Taaldag: Ons onthou agt jollie kêrels wat sorg vir die taal

Vandag is Afrikaanse taaldag. Omdat die ontwikkeling van ’n taal, soos Afrikaans, oor baie, baie jare plaasvind, kan mens nou nie werklik van ’n geboortedag van die taal praat nie.

Maar 14 Augustus is ’n belangrike datum omdat agt begeesterde mans op dié dag in 1875 in Dal Josafat, naby die Paarl, bymekaargekom het om die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te stig.

Dit was dan ook dié historiese byeenkoms wat wyle Randall Wicomb se lied Agt Jollie Kêrels geïnspireer het:

Agt Jollie Kêrels van die Pêrelvallei

Wou die taalkwessie graag regkry

Met geloof en baie moed,

Is die nuwe taal gegroet

Soos Roemeens vir die Roemene

Spanjaarde vir hul Spaans

Sou die ag jollie kêrels sorg vir Afrikaans….

Die agt jollie kêrels was Gideon Malherbe, C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit, Daniël Francois du Toit (Oom Lokomotief), ds. S.J. du Toit, August Ahrbeck, Petrus Malherbe en S.G. du Toit. Almal behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was familie.

Die rol van die GRA mag in die woelige en onseker tye waarin ons leef veral nie onderskat word nie. Dit was juis die optrede van hierdie groep mans wat vandag nog ’n voorbeeld is van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur vir hul taal op te staan. Dit is ook wat AfriForum as burgerregte-organisasie doen.

Die GRA het hulle beywer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans, die vestiging van ’n Afrikaanse koerant en die erkenning van Afrikaans as amptelike taal. Al hierdie ideale is verwesenlik.

Kraal Uitgewers vier vandag Taaldag met die bekendstelling van die gevierde taalhistorikus prof. J.C. Steyn se jongste boek, Verset en Opbou – Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans, by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein.

Oor die hedendaagse uitdagings wat Afrikaans en ander minderheidstale in Suid-Afrika in die gesig staar, meen Steyn is N.P. van Wyk Louw se insig in taal en taalaktivisme steeds relevant. Boonop bied verskeie alternatiewe en nuwe benaderings tot taalaktivisme, soos voorgestel deur moderne Afrikaanse taalaktiviste, ook moontlike antwoorde tot hedendaagse uitdagings.

Die boek is verdeel in agt hoofstukke en bevat nagenoeg 80 foto’s.  Dit kos R300 en is by www.kraaluitgewers.co.za beskikbaar.

Die beste manier om Afrikaans te vier op dié dag is om Afrikaans te koop, hetsy ’n boek, ’n liedjie, fliek, tydskrif, of om ’n eg-Afrikaanse besigheid op AfriForum Netwerk (www.afriforumnetwerk.co.za) te ondersteun, sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum.

 

Soortgelyke plasings