Header Artwork

As Afrikaanse onderwys tot niet gaan, sal dit ook die einde van Afrikaans as taal beteken.

Met dié boodskap het Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hande se leierskapkongres, die noodsaaklikheid van volhoubare Afrikaanse skole beklemtoon.

Buys het gesê Afrikaanse skole bied steeds wêreldgehalte-onderrig en alles moontlik moet gedoen word om te verseker dat dit behoue bly.

Sy meen Afrikaanse skole se sukses is onlosmaaklik deel van die kultuur van uitnemendheid wat deur die skool en ouergemeenskappe nagestreef word.

Sy meen Afrikaanse skole is uitgelewer en het geen ander keuse as om meer selfstandig te word nie. “As mens kyk na uitsprake van individue soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, naamlik dat onderwys die ruggraat van transformasie is en dat dit eerder oor kwessies soos sosiale kohesie en politieke gelykheid, is dit duidelik dat gehalte-onderrig nie die prioriteit is nie.”

Buys het ook verwys na die departement se onvermoë om genoeg skole in Gauteng te voorsien. Daar is sowat 2 000 skole in Gauteng waarvan 124 Afrikaans is. Volgens haar is nog sowat 160 skole nodig.

“Die probleem is nie ’n gebrek aan fondse om meer die skole te bou nie, maar onvermoë en onwilligheid om die probleme te pak.”

Daar is verskeie redes waarom Afrikaanse skole meer selfstandig moet word soos die aanslag op dié skole se kultuur, etos en Christelike waardes, die finansiële druk waaronder hulle verkeer omdat die departemente nie gelde oorbetaal wat die skole toekom nie asook die tekort aan kundige onderwysers en gebrekkige kundigheid in die breër onderwysomgewing.

Volgens Buys is ouers baie lojaal aan hul skole en skole moet dit in ag neem en vennootskappe met ondernemings sluit wat selfstandigheid verder kan bevorder.

Sy het die noodsaaklikheid van ’n Afrikaanse onderwyspyplyn van kleuterskole tot tersiêre vlak beklemtoon. “As Afrikaanse onderwys nie behou word nie, sal dit uiteindelik ook ’n negatiewe impak op die taal hê.”

Johan van Lill, radio-omroeper, het by die kongres wat deur meer as 500 onderwysers bygewoon word, oor leesprobleme in die klaskamer gepraat.

Hy het waardevolle lesse vir opvoeders gehad oor wat hulle kan doen om kinders se leesvermoë te verbeter. Hy het ook talle mites rondom lees uitgewys en ’n ernstige pleidooi gelewer dat kinders nie voor die ouderdom van 7 jaar geleer moet word hoe om te lees nie.

Van Lill het gesê leesprobleme is ’n wêreldwye verskynsel en nie net tot Suid-Afrikaanse kinders beperk nie. Hy het die breinprosesse rondom lees verduidelik en gesê as kinders nie die wêreld rondom hulle deur hul sintuie ervaar nie, kan taal nie plaasvind nie.

Van Lill het voorts gesê baie geletterdheidsontwikkeling vind gedurende slaap plaas en tieners het net soveel slaap soos tweejariges nodig sodat dié ontwikkeling kan plaasvind. Om dié rede het hy gesê moet onderwysers dit ernstig oorweeg om hoërskoolleerlinge later in die dag te laat toets skryf.

Van Lill het ook die rol van tegnologie toegelig en gesê “kyk” het die nuwe lees geword. “Tegnologie, waaronder selfone, het verander hoe mense lees. Mense lees nie dommer of vlakker nie, maar vinniger as in die verlede.

Hy het ook verduidelik wat die invloed van skermtyd (rekenaars, witborde, televisie, selfone, i-pads) op die ontwikkeling van die brein het. “Skermtyd moet beperk word. Kinders wat die heeldag na skerms kyk se breine word beskadig.”

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) het oor personeelerkenning en –motivering gepraat.

Hy het gesê onderwysers moet hulself opnuut afvra of hulle in die onderwys is omdat dit ’n werk, ’n loopbaan of ’n roeping is. “In die onderwys kan dit eenvoudig nie oor rand en sent of ’n salaristjek aan die einde van die maand gaan nie.”

Hy het gesê hoofde moet nuut oor erkenning en motivering van personeel dink. Hy het gesê baie personeel floreer wanneer hulle professioneel kan groei of deel van bestuursprosesse kan wees. Daar is ook ander vorme van aansporing wat personeel kan motiveer. Dit sluit in aanprysing, koop- of geskenkbewyse, toekennings vir uitstaande diens en toewyding, flexi- of aftyd, etes, persoonlike gesprekke en mentorskappe.

 

 

 

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN
AFRIFORUM AMBASSADEUR