|

Afrikaanse kunstenaars in die wolke oor Aitsa Musiektoekennings

Die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings, wat gisteraand in die Moreleta-ouditorium in Pretoria aangebied is, was ’n reusesukses.

Sowat 4 000 gaste het dié spoggeleentheid, wat deur PretoriaFM en ander borge soos AfriForum en Dapper Media moontlik gemaak is, bygewoon.

Pieter Koen was die gasheer en die room van Suid-Afrika se kunstenaars is in verskillende kategorieë vereer met trofees wat deur die beeldhouer Francois Visser gemaak is. Tientalle bekendes in die vermaak- en musiekbedryf het ook die glansgeleentheid bygewoon.

Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van PretoriaFM, het gesê hy is stomgeslaan oor die ondersteuning en bywoning wat daar vir die toekennings was. “Die Aitsa’s het daarin geslaag om ’n onafhanklike, deursigtige en geloofwaardige Afrikaanse musiektoekenningsgeleentheid te wees. Asemrowend, indrukwekkend, toonaangewend, skitterend én Afrikaans (die eerste letters wat Aitsa spel) is inderdaad die woorde wat die Aitsa-toekennings raak beskryf,” het Koortzen gesê.

Verskeie kunstenaars waaronder Steve Hofmeyr, Jo Black en Demi Lee Moore het staande applous van die gehoor gekry sowel as Sonja Heroldt wat met ’n toekenning vir lewenslange bydrae vereer is. Kosie van Niekerk, ’n ou bekende in die musiekbedryf, het ook ’n toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die musiekbedryf gekry. “Afrikaans is in my bloed, hart en siel. Dit gee my elke dag hoendervleis. Jy kan dit tot in country en gospel sing…” het hy gesê.

Hofmeyr, wat die toekenning namens homself, Ruhan du Toit en ander kunstenaars vir Die Land, liedjie van die jaar, in ontvangs geneem het, het gesê dit is vir kunstenaars soos hy ’n eer en voorreg om by die toekennings te kan optree en ’n geleentheid om ook dankie te sê aan almal wat hul musiek ondersteun. “Ek het gedink die jaar gaan verbygaan sonder dat Die Land enige erkenning kry. Hierdie is ’n groot oomblik.”

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

Boeremusiek Tradisionele Musiekalbum: Die Ventertjies

Humoristiese Album van die Jaar: Die Flooze

Kontemporêre Album van die Jaar: Jo Black

Instrumentale Album van die Jaar: Rocco de Villiers

Alternatiewe Album van die Jaar: Spoegwolf

HipHop Album van die Jaar: Early B (Ondanks die feit dat hy vroeër kapsie teen ’n bemarkingsvideo vir die toekennings gemaak het en nie die geleentheid bygewoon het nie.)

Pop Album van die Jaar: Demi Lee Moore

Musiek in ’n TV-reeks of –program: Jo Black in Kom Ons Gaan Groot

Musiekvideo van die Jaar: Elandré

Nuweling van die Jaar: Douvoordag

Liriek van die Jaar: Juan Boucher (Twaalf Rondtes)

Vervaardiger van die Jaar: Danny Smoke

Liedjieskrywer van die Jaar: Elandré en Niel Schoombie

Liedjie van die Jaar: Die Land

Kunstenaar van die Jaar: Spoegwolf (Koma)

Album van die Jaar: Demi Lee Moore (Mis, Eet, Slaap, Herhaal)

Die Solidariteit Beroepsgildes het ook drie toekennings geborg.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dié toekennings is om duisende jongmense aan te spoor om die kunste te betree en te presteer en om kunstenaars in die algemeen ook te ondersteun. Die drie toekennings het gegaan aan:

Baanbrekerswerk vir film en vermaak: Donnalee Roberts en Ivan Botha

Afrikaanse Letterkunde: Deon Meyer

Uitnemendheid op skoolvlak: Hoërskool Rustenburg se koor vir die sukses met hul Bohemian Rhapsody-video op Youtube.

Heroldt het oor die toekennings en Afrikaanse musiek gesê: “Dit is ’n bewys dat mense vandag kies om na Afrikaanse musiek te luister. Dit is nostalgies, profeties. Dit mag ook protesteer en mag ons ook brûe daarmee bou.”

Meyer, wat nie die geleentheid kon bywoon nie, het in ’n roerende boodskap gesê: “Baie baie dankie vir die geleentheid. Dit is ’n heerlike eer om in my taal vereer te word.”

Soortgelyke plasings