|

Afrikaanse kultuur en kunste lewendig by Innibos

Nelspruit het verlede week behoorlik gewemel tydens die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees wat vanjaar vir die 14 de keer aangebied is.

Meer as 100 000 mense het vanjaar dié fees, wat tans die grootste Afrikaanse kunstefees in die land is, bygewoon. Dit het ook ’n finansiële inspuiting van sowat R85 miljoen vir die dorp beteken.

Feesgangers kon kies en keur tussen verskeie musiekkonserte, boekgesprekke en verhoogproduksies, insluitend produksies soos Sorry Miss Daisy met Sandra Prinsloo en Fiela se Kind met Shaleen Surtie-Richards.

Innibos het ook vanjaar ʼn Boeke-Crawl na Kaapsehoop, asook ’n nuwe Lekkerlag-Komedie-crawl met kunstenaars soos Schalk Bezuidenhout en Casper de Vries aangebied.

Opkomende en bekende Afrikaanse musikante soos Bok van Blerk, Dozi en Karlien van Jaarsveld het ook deur die loop van die week feesgangers op ses verkillende musiekverhoë vermaak.

Volgens Roldo Mathee, ʼn klankingenieur by Innibos, moet Afrikaanse kunstefeeste verder uitgebrei en aangebied word. Hy het aan Forum Nuus gesê dat daar tans ʼn herlewing van Afrikaanse musiek onder jong Afrikaanssprekendes is en dat mense die fees volgens hom ondersteun omdat hulle graag die kunste in hulle eie moedertaal wil ervaar.

Dean Henning, ook ʼn klankingenieur, meen Innibos is ʼn manier om Afrikaanse kunstenaars en feesgangers positief en trots oor hul taal te laat voel. Hy sê voorts dat dit ook baie goeie blootstelling bied vir jong en opkomende Afrikaanse kunstenaars.

Claude Pretorius, ʼn radiopersoonlikheid en voormalige aanbieder van die televisiereeks Kwêla, sê die samehorigheid en gedeelde passie vir Afrikaanse kunste is wat hom na die Innibos fees gelok het. “Só fees laat mens toe om te ontsnap van die harde realiteite van die land. Dis wonderlik om te sien dat duisende mense bymekaar kom om Afrikaanse musiek, kuns en kultuur saam te ervaar en geniet.”

John Kloppers, ʼn inwoner van Groblersdal en se vrou, het byna 250 km gereis om Innibos by te woon. “Dit is absoluut bakgat om so groot Afrikaanse kunstefees by te woon. Dit was die eerste, maar beslis nie die laaste keer dat ons hierheen kom nie.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook vanjaar se Innibos fees bygewoon om steun te werf vir hul nasionale veldtog teen sportkwotas en  politieke inmenging in sport.

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg. Besoek AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za of stuur jou naam na 45113. SMS kos R1.

 

 

Soortgelyke plasings