Spyskaart +

Afrikaans verloor by die UV. Watter mite word nou in stand gehou?

Maart 7, 2018 deur Admin

Deur: Dr. Annette Jordaan

Die opdraande stryd vir Afrikaans by voormalige Afrikaanse universiteite duur voort. Is dit nie reeds ’n verlore stryd nie? En watter rol speel mites rondom Afrikaans hierin?

In ’n vorige bydrae oor die funksieverlies van Afrikaans by histories-Afrikaanse universiteite is gewys op die rol van miteskepping rondom die “storie” van Afrikaans. “Mite” verwys hier veral na dié narratiewe wat van een geslag aan die volgende oorgedra word as antwoord op die mens se behoefte aan ’n historiese bewussyn, singewing vir sy bestaan en identiteitskonstruksie. (Joseph Campbell en Etienne Leroux was by uitstek eksponente van dié siening van die mite.)

Wat betref die mitiese “liefdesband” tussen Afrikaans en die Afrikaner, wat veral vlerke gekry het ná die vernedering en verliese wat tydens die Anglo-Boereoorlog gely is, is gewys op die simboliese rol van Afrikaans om selfrespek te herwin en groepsidentiteit in stand te hou. (MER, die Afrikaanse skryfster en welsynwerkster, het daarna verwys as “ons ewige opdraand gesukkel om onsself te bly”.)

In hul uitspraak ten gunste van die Universiteit van die Vrystaat se verengelsingsbeleid in die konstitusionele hof ontken hoofregter Mogoeng Mogoeng en die meerderheid van sy mederegters die internasionaal-erkende opvoedkundige waarde van moedertaalonderrig (wat in elk geval ook nie deur onderrig in Engels vir die meeste swart studente ’n werklikheid word nie omdat hulle ander moedertale/eerste tale het as Engels). Dié ondeurdagte uitspraak het egter ook simboliese implikasies omdat dit die historiese stryd om erkenning vir Afrikaans as tersiêre onderwystaal en die harde werk om die taal tot op die hoogste vlak te ontwikkel as waardeloos afmaak. Daar moet, terloops, ook gewys word op die ernstige denkfout wat hiermee saamgegaan het. Die hoofregter het onder meer verklaar dat die voortgesette gebruik van Afrikaans as onderrigtaal sal help om “white supremacy” in stand te hou. Heindrich Wyngaard wys egter in sy kommentaar op die uitspraak in Rapport van 21 Januarie 2018 die hoofregter daarop dat volgens die 2011-sensusverslag ongeveer 60% van alle Afrikaanssprekendes bruin (en ook Indiër of swart) is. Die bruin jongmense van onder meer die Kaapse Vlakte, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap is juis dié groep wat by uitstek by Afrikaans as universiteitstaal kan baat.

Dit is egter veral die tweede mite, dié van Afrikaans as die taal van die verdrukker – en by name die Nasionale Party van 1948 en verder – wat vir duidelik politieke oogmerke doelbewus in stand gehou word. Afrikaans moet 24 jaar ná 1994 steeds boete doen vir sy (sprekers se) sondes van die verlede. Oor “Engelse sondes” word geen (English only) woord gerep nie! En dié mite word voorts lewend gehou deur diegene wat nooit kan waag om erkenning te gee aan die besondere bydraes van Afrikaanssprekendes in die verlede en steeds in die huidige bestel nie.

Net ’n laaste gedagte: in die mities-gelaaide skoollied van my oud-skool, die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria, lui een versreël: “… strydersbloed vloei in ons are, strydershoop, o soete hoop…” Neerslag van dié strydershoop is onder meer die oprigting van Akademia en Sol-Tech.

(Tot met aftrede in 2015 ’n dosent in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.)