Spyskaart +

Afrikaans as universiteitstaal is van kritieke belang vir die taal se voortbestaan

Januarie 25, 2017 deur Kallie Kriel

Kallie02

“Afrikaans sal bly voortbestaan solank as wat ons net aanhou om die taal op sosiale vlak met mekaar te praat.” Hierdie stelling word dikwels gehoor van diegene wat daarteen gekant is dat AfriForum en ander organisasies in die howe en op ander wyses veg dat Afrikaans sy sogenaamde hoër funksies onder meer as onderrigtaal by universiteite behou. In terme van hierdie argument hou die verdwyning van Afrikaans as openbare taal by onder meer universiteite, skole, besighede en die openbare sektor geen bedreiging vir die taal in nie. Solank Afrikaans by kunstefeeste kan voortbestaan, is die Kaap Hollands, word gesê.

Hierdie siening is natuurlik baie gerusstellend en ’n mens sal dit graag wou glo. Ongelukkig hou dit nie tred met die werklikheid nie. Verskeie internasionale voorbeelde dui daarop dat wanneer ’n taal sy hoër funksies verloor, dit die taal op ’n byna onkeerbare afwaartse glyskaal plaas.

Wêreldwyd lei die dominasie van Engels en ander “groot” tale daartoe dat daar ’n duidelike afname in die aantal tale is. Daar is tans sowat 6 900 “lewende tale” in die wêreld. Van hierdie tale is sowat 421 op die punt om uit te sterf. Dr Theuns Eloff skryf in sy boek Wat nou, Suid-Afrika? dat daar selfs in ’n konserwatiewe scenario beraam word dat 50% van die wêreld se tale binne die volgende 50 tot 100 jaar sal uitsterf. Verder is daar volgens ’n artikel wat in die gesaghebbende tydskrif Time verskyn het, selfs taalkundiges wat voorspel dat, sou niks aan die situasie gedoen word nie, 95% van die wêreld se tale in onbruik sal verval. Dit is dus ’n illusie dat enige van die wêreld se niedominante tale se voortbestaan as vanselfsprekend aanvaar word.

Natuurlik gaan Afrikaans nie in ’n oogwink uitsterf as die taal sy hoër funksies verloor nie. Die pad na agteruitgang is ’n geleidelike proses. Volgens internasionale voorbeelde word ’n taalgemeenskap wie se taal sy hoër funksie verloor, eers tweetalig, waarna toekomstige geslagte slegs die dominante taal aanneem. Afrikaanssprekendes wat hierdie artikel lees, sal dus nie die totale verdwyning van Afrikaans beleef nie, maar ek glo dat ons in terme van ons roeping ’n verantwoordelikheid het om te help om ons wonderlike taal vir ons nageslag in beskerming te neem.

Die proses van taaloorheersing het oor die wêreld heen begin versprei toe Europese moondhede in die 16de en 17de eeu hulle invloedsfere uitgebrei het. Die ekonomiese mag van koloniale tale en die vestiging van dié tale as enigste hoërfunksietale in die verowerde gebiede was die doodskoot vir verskeie inheemse tale. In Brasilië byvoorbeeld het 75% van die gebied se inheemse tale uitgesterf sedert die aankoms van die koloniseerder in 1500. Van die oorblywende 180 inheemse tale, word slegs een deur meer as 10 000 mense gepraat. Dieselfde het in Australië gebeur. Sedert 1788 het die inheemse tale in dié gebied afgeneem van 250 tot slegs 20.

Globalisering het meegebring dat taaloorheersing tans baie groter afmetings aanneem as tydens die koloniale tydperk of enige ander tydperk in die geskiedenis. Verbeterde kommunikasie en die “krimping” van die wêreld lei onafwendbaar daartoe dat kompetisie tussen tale verhewig. Binne hierdie hoogskompeterende taalomgewing is ’n taal se enigste kans op oorlewing steeds die vermoë van sodanige taal om homself as hoërordetaal te handhaaf.

Die taalverskuiwingsproses in die globaliseringsera kry natuurlik nóg groter momentum in lande soos Suid-Afrika, waar die owerheid vrywillig besluit om ’n oorheersende taal soos Engels as enigste gebruikstaal te gebruik. Wat Suid-Afrika betref onderwerp die ANC-regering tans Afrikaans en ander inheemse tale vrywillig aan ’n nuwe vorm van kolonialisme en taalimperialisme. Dit is nogal vreemd gegewe die ANC se uitgesproke teenkanting teen kolonialisme en imperialisme.

Omstandighede waarbinne hierdie taaloorheersingsproses plaasvind, verskil natuurlik van land tot land. Daar is egter geen rede om te glo dat die omstandighede van Afrikaans en ons ander inheemse tale so eiesoortig is dat dit hier anders sal verloop nie. Daar moet nie uit die oog verloor word dat die sukses wat byvoorbeeld Afrikaanse kunstefeeste, musiek, media en boeke die afgelope 20 jaar behaal het, ook te doen het met die momentum wat Afrikaans tydens die vorige bedeling opgebou het nie. Hierdie momentum kan nie as ’n gegewe aanvaar word nie en daar is ongelukkig reeds tekens dat Afrikaanse kunstefeeste, koerante en musiek nie meer dieselfde sukses behaal as voorheen nie. Natuurlik speel ander faktore ook ’n rol, maar die rol van die verswakking van Afrikaans se posisie as openbare taal kan nie misken word nie.

Dit sou dus dwaas wees om oorgerus te wees oor die toekoms van Afrikaans. Om dié rede sal AfriForum sy pogings versnel om toe te sien dat Afrikaans se hoër funksies in beskerming geneem word. Dit sluit in hofaksies soos dié teen universiteite wat saamsing in die #AfrikaansMustFall-koor, die mobilisering van steun onder Afrikaanse studente ter behoud van die taal en proaktiewe veldtogte soos AfriForum se SLIM-veldtog, wat wys dat dit slim en voordelig is om in jou moedertaal te studeer. AfriForum gaan gelukkig nie swig voor die paar stemme uit die Afrikaanse gemeenskap wat nie kan wag om kritiek uit te spreek teen pogings om Afrikaans by universiteite in beskerming te neem nie.

AfriForum is dankbaar vir die werk wat privaat Afrikaanse onderriginstellings soos Sol-Tech en Akademia doen om nuwe ruimtes te skep waar Afrikaans sy hoër funksies kan behou. Ons is trots om saam met hierdie instellings deel van die Solidariteit Beweging te wees.

Ten slotte: Daar is hoop! AfriForum en verskeie ander Afrikaanse organisasies is vasberade om te help toesien dat Afrikaans nie dieselfde pad as ander kwynende tale in die wêreld loop nie… Maar dit vereis van ons elkeen dat ons nie mag boedel oorgee nie en met deursettingsvermoë moet werk vir die toekoms van ons mooi taal.

Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum.