--> -->
Spyskaart +

Afrikaans in tersiêre onderrig: Die pad vorentoe

Maart 26, 2018 deur Admin

Prof. Jaap Steyn

’n Klein historiese oomblik in Januarie 2018 het sonder veel kommentaar verbygegaan. Oudpres. F.W. de Klerk het op 21 Januarie in Rapport die betekenisvolle erkenning gemaak dat die ANC die Afrikaneronderhandelaars in die 1990’s “bewustelik mislei” het en nooit die regte in die 1996-grondwet wou eerbiedig nie. Dit was sy reaksie op die Konstitusionele Hof (KH) se uitspraak oor die verengelsing van die Universiteit van die Vrystaat (UFS).

Die opskrif is veelseggend: “Hof versaak minderhede”. Dis inderdaad ’n betreurenswaardige uitspraak. Die vraag is nou: Wat kan ons doen om nog verliese te voorkom?

Die eerste is om die Solidariteit-instellings soos Akademia en Sol-Tech, maar ook kleiner instellings, verder uit te bou.

Die tweede is om te werk vir die behoud van die Afrikaanse enklaves by die histories Afrikaanse universiteite. By die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is Afrikaans in alle fakulteite nog die onderrigtaal. Sommige vakke by die UFS en die Universiteit Stellenbosch (US) het Afrikaans gebly. Ons sal maar moet sien wat die Konstitusionele Hof oor Unisa gaan beslis.

In ’n belangrike artikel Kovsie-uitspraak: Goeie én slegte nuus vir Afrikaans (https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/kovsie-uitspraak-goeie-en-slegte-nuus-vir-afrikaans-20180123) wys dr. Theuns Eloff daarop dat “markaanvraag” volgens die Konstitusionele Hof die “onreg” van Afrikaanse klasse as ‘t ware neutraliseer. By Kovsies bly Afrikaans by teologie en opvoedkunde omdat daar ’n markaanvraag na Afrikaanse opleiding hierin is.

Afrikaanse ouers kan dus die impak van die Konstitusionele Hof se uitspraak op die US en NWU teëwerk deur hul kinders steeds na hierdie twee universiteite te stuur sodat hul getalle só groot en die gehalte só hoog bly dat die universiteitsowerhede hulle nie kan ignoreer nie.

“Daarby moet hierdie studente gehelp word om op hul grondwetlik beskermde taalregte te staan en die implisiete en eksplisiete intimidasie van universiteitsowerhede, dosente en medestudente te weerstaan – op ’n vriendelike maar ferm manier,” meen Eloff.

Hierdie bystand moet geskied in moeilike omstandighede. Die EFF, ANC en verwante groepe sal alles in hul vermoë doen om insidente uit te lok wat die openbare mening teen Afrikaans kan vergiftig. Net een verkeerde woord, een onbesonne sin, een onversigtige gebaar, en jy en jou taal is skuldig aan die doodsonde rassisme.

Hoe moeilik ook al, dit bly noodsaaklik vir die taal en die gemeenskap dat ons bly veg vir regte wat internasionaal erken word.

Die bekroonde skrywer Hennie Aucamp het in die taalstryd van die 1990’s iets gesê wat waar bly: “Wie die siel van ’n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ’n mens se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself.”

(Prof. Jaap Steyn is ’n skrywer en taalhistorikus.)