--> -->
Spyskaart +

Afrikaans op universiteitskampusse: Seepkisveldtogte

Februarie 23, 2018 deur Alet Rademeyer

Prof. Anne-Marie Beukes

Sedert 2015 se #AfrikaansMustFall-veldtogte is die plek en rol van Afrikaans as onderrigtaal skielik weer sterk in die kollig. Nie sedert die Soweto-opstand van 1976 met die “To hell with Afrikaans”-aandrang is die seepkiste so georkestreerd staan gemaak soos tans nie. Afrikaans is destyds verwerp as die simbool van ’n apartheidsregime se onderdrukking van en strukturele geweld teen swart mense. Tans is daar in die Overvaal-gedoente wel ’n effense klemverskuiwing in die narratief in die sin dat sommige van die voorbokke (of voorbekke) nou aanvoer dat hulle “niks teen Afrikaans” het nie, maar dat die sprekers van Afrikaans die taal as skeidingsmeganisme in klaskamers en lesingsale gebruik. Diskriminasie en uitsluiting in die klaskamer is dus die gevolg van die eksklusiewe gebruik van Afrikaans as onderrigtaal.

Hierdie wekroep teen Afrikaanse mense word wyd en syd deur hoge onderwyslui uitbasuin, onlangs ook versterk deur die kanonvoer wat politieke partye en vakbonde in opruiende protesoptogte na die gevegsterrein in Vereeniging gestuur het. En toe word daar probeer om ’n hoë morele gestalte aan die wekroep te verleen deur jong leerders van buurskole na die oorlogsterrein aan te ry om te pleit vir hulle plek in die son wat Afrikaansonderrig hulle sou ontneem.

In die openbare gesprek oor die afgelope paar maande reageer Afrikaanse onderwyskenners en taalkundiges en ander belanghebbers in versigtig bewoorde artikels (meestal in Afrikaans) op die drogredenasies oor die keuse van Afrikaans as onderrigtaal wat gelyk gestel word aan rassisme. Die georkestreerde fopnuus oor die vermeende uitsluiting van leerders word aangestip en daar word gewys op die jare lange wanbestuur van onderwyshulpbronne en die gebrek aan voldoende infrastruktuur vir ons snelgroeiende leerdergetalle. Die Konstitusionele Hof se ylerige uitspraak oor Kovsies se taalbeleid en die subteks van Engelse eentaligheid word pront aangetoon.

Die uitsprake deur die minister van basiese onderwys oor die Vereeniging-aanslag op Afrikaans is natuurlik te verwelkom, asook enkele reaksies (selfs in Engels) oor die Konstitusionele Hof se gewraakte hofuitspraak. En ook waag die rektor van ’n voormalige Afrikaanse universiteit, prof. Frances Petersen van Kovsies, dit pas om toe te tree tot ’n konstruktiewe gesprek oor Afrikaans by sy universiteit!

Ek bly egter steeds diep onder die indruk dat die groter, openbare (populistiese?) gesprek oor onse taal steeds deur die seepkisbrigade oorheers word. Ons moet eenvoudig ’n teenvoeter daarvoor vind, en gou ook!