--> -->
Spyskaart +

Afrikaans op kampusse – die skroef word al hoe stywer gedraai …

Maart 22, 2018 deur Admin

Prof. Wannie Carstens

Verwikkelinge die afgelope tyd dui daarop dat Afrikaans se posisie op universiteitskampusse beduidend verswak het. Uit berigte is dit duidelik dat die skroef veral sedert 2014 al hoe stywer gedraai is. Toe was daar nog ’n aantal universiteite waar Afrikaans as erkende onderrigtaal gebruik en as sodanig aanvaar is: KSUT, UP, US, UV, Unisa en NWU.

Sedertdien het die prentjie drasties verander. Teen die einde van Januarie 2018 was die posisie soos volg: KSUT – nog op die Wellington-kampus (maar vir hoe lank nog?); UP – uitgefaseer 2016; UV – uitgefaseer 2017 (en die befaamde uitspraak van die konstitusionele hof in Desember 2017 het dit finaal bevestig)[1]; Unisa – uitgefaseer 2016; US – afgeskaal in 2016 (waar dit hierna die status het van ’n taal wat “ondersteun” sal word); NWU – erkende onderrigtaal op die Potchefstroom-kampus. Dit is duidelik dat daar in die loop van slegs vier jaar beduidend agteruit geboer is.

Wat in wese oorgebly het, is die US (waar die posisie van Afrikaans sonder twyfel binne agt tot tien jaar nog verder sal afskaal om Engels die primêre taal te maak) en die NWU (waar daar erns is om ’n waarlik meertalige bedeling te vestig sodat daar vir Afrikaans ’n veilige ruimte is – dit sal in die loop van 2018 duidelik word).

Die boodskap wat dit uitstuur, is eenvoudig: Afrikaans is op pad uit as universiteitstaal in Suid-Afrika. En die uitkringeffek is voorspelbaar: Jonger Afrikaanse ouers gaan ’n pragmatiese keuse maak en vroegtydig hulle kinders in Engelse skole sit om hulle “gereed te maak” vir universiteitstudie in Engels. En die argumente oor die voordele van moedertaalonderrig word net geïgnoreer. En die “historiese skuld” van Afrikaans word as rede hiervoor voorgehou.

Vir ons vir wie Afrikaans ’n hartsaak is en wat baie tyd en energie gebruik om Afrikaans se saak te stel, is dit nou inderdaad ’n moeilike tyd. Elke redelike poging is aangewend, maar telkens was daar ’n terugslag. Selfs moreel regverdige hofsake soos dié van Gelyke Kanse teen US (waar daar bloot gevra is vir ’n gelyke bedeling vir Afrikaans en Engels) is in 2017 verloor. Wat die uitkoms van die appèl gaan wees, weet ons nie, maar in die lig van die onlangse UV-uitspraak is sukses sekerlik nie verseker nie, juis omdat die hoofregter so ʼn duidelike streep in die sand getrek het deur Afrikaans te vergoeilik as ’n taal wat toegang belemmer. Waarom sal die regters van ’n laer hof nie die hoofregter se riglyn navolg nie?

Wat nou? Ek weet op hierdie stadium gewoon nie. Maar ons wat belang het by Afrikaans en die universiteitswese sal spoedig dringend koppe bymekaar moet sit en sáám ’n haalbare strategie ontwikkel om die pad vorentoe te bepaal. Dit is nou tyd vir innoverende denke en vir die opsyskuif van verskille. Ons durf ook nie moedeloos word en ons vertroue in Afrikaans verloor nie. Anders lyk die omgewing vir Afrikaans oor vyf jaar nog slegter as nou.

(Prof. Wannie Carstens is ’n oud-Matie, onder meer werksaam as direkteur van die Skool vir Tale, NWU (Potchefstroom-kampus). Hy is die skrywer van verskeie akademiese handboeke en wetenskaplike publikasies oor Afrikaans. Hy is ook ’n voormalige voorsitter van onder meer die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.)

[1]Die argumente van die rektor en visekanselier, prof Francis Petersen, dat Afrikaans nog “lewend” is op die UV-kampus, oortuig niemand nie. Jy hou nie iets lewend deur die waarde daarvan af te skaal nie. Vgl. prof Petersen se artikel hieroor in Rapport Weekliks van 29 Januarie 2018.