--> -->
Spyskaart +

Afrikaans op kampusse 3: Dr. Leopold Scholtz

Maart 10, 2016 deur Anita Erasmus

Hiermee die derde bydrae in AfriForum se reeks oor die plek van Afrikaans op kampusse.

Een van die belangrikste besware teen die stryd wat Afrikaans-voorstanders op universiteite in Suid-Afrika voer – een wat voortdurend soos ’n refrein weerklink – is dat dit nie ’n universiteit se taak is om ’n taal te “red” of te “bevorder” nie.

’n Universiteit se taak is om uitnemende wetenskap te beoefen en basta, word gereeld gesê. En as dít beteken dat ’n taal in die slag moet bly, is dit dan maar tot daarnatoe.

Bowendien, Engels is mos teenswoordig die internasionale taal. As jy êrens in die wêreld ’n internasionale vakkongres bywoon, is die kans uitstekend dat die kongresgangers onderling op Engels sal kommunikeer. Engels is die “neutrale”, waardevrye taal, ’n ideologies “skoon” kommunikasie-instrument sonder bagasie.

Wat is inderdaad die taak van ’n universiteit? Talle dik, geleerde boeke is al hieroor geskryf, en lesers sal my verskoon as ek nie uit hulle aanhaal nie. Laat my kortpad vat en stel dat daar ’n algemene konsensus oor die saak is.

Luidens dié konsensus het ’n universiteit twee take: Die skép van kennis deur middel van navorsing, en die óórdrag van daardie kennis in die klaslokaal. Saamgevat moet dit gebeur deur middel van ’n strewe na akademiese uitnemendheid.

Op die keper beskou, pas die “red” van ’n taal nie hierin nie. En dus, as Breyten Breytenbach in sy rede voor die jaarvergadering van die Konvokasie aan die Universiteit van Stellenbosch sê dat dit wel deeglik die universiteit se taak is, moet ek in alle beskeidenheid met hom verskil.

Dit ís nie ’n universiteit se taak nie. Net soos dit byvoorbeeld ook nie die kerk se taak is nie. Sowel die universiteit as die kerk se taak lê, op die keper beskou, op ’n ander vlak – die een op die vlak van akademiese uitnemendheid en die ander om soos ’n morele suurdeeg in die samelewing ’n rol te speel om mense met mekaar en God te versoen.

Maar beteken dit dat die universiteit (en die kerk) géén rol het waarin taal voorkom nie?

Dit hang af hoe jy die saak bekyk. Indien jy die universiteit sien as ’n instelling wat homself van die samelewing afgrendel, wat homself in ’n akademiese ivoortoring toesluit en waardevrye, suiwer wetenskap beoefen – ja, dan is die welsyn van enige taal irrelevant.

Maar dis tog nie hoe ’n universiteit behoort op te tree nie. Moet die universiteit in die beoefening van sy taak dan nie vierkant midde-in die samelewing staan nie?

Laat my ’n voorbeeld neem uit my eie dissipline, die geskiedeniswetenskap. Moet die historikus homself – soos die legendariese wyle prof. Piet van der Merwe dekades gelede op Stellenbosch gedoen het – slegs of hoofsaaklik besig hou met die presiese hoeveelheid assegaaie wat gedurende die Slag van Vegkop in die Voortrekkerlaer geval het? Of moet hy byvoorbeeld eerder besin oor die historiese betekenis van Vegkop in die kolonisering van onafhanklike swart state en die invloed wat dit op die latere rassebetrekkinge in Suid-Afrika gehad het?

Moet die teoloog bly vassteek by die presiese inhoud van Abraham Kuyper se onderskeid tussen die algemene en die besondere genade, of moet hy kyk of die kwessie relevant gemaak kan word in ’n wêreld wat steeds meer sekulêr word en die genadebegrip agter hom laat?

Dieselfde geld vir taal. Die skep en oordrag van kennis, veral laasgenoemde, gebeur deur middel van taal. Taal is geen ideologies neutrale, waardevrye instrument vir ’n ivoortoring nie. (En dan praat ek nie van die historiese apartheidsbagasie wat aan Afrikaans toegedig word nie, so asof Engels met sy koloniale verlede nie sélf swaar aan sy eie bagasie dra nie.)

Dit gaan om die vind van ’n instrument wat die oordrag van kennis – om ’n deftige akademiese woord te gebruik – optimeer. Welke taal is daarvoor die mees geskikte?

Daar is tientalle akademiese studies wat die waarde van moedertaalonderwys illustreer. Dit geld veral vir primêre en sekondêre onderwys, maar heelparty akademici (’n mens dink aan Diana Vinke in Nederland, Tove Skuttnab-Kangas in Denemarke, en Vic Webb in Suid-Afrika) het statistiese navorsing gedoen waaruit blyk dat die oordrag van kennis in die klaskamer aan sowel die dosent as die student se kant in hul moedertaal tot beter punte lei.

Let wel, dit is geen subjektiewe mening nie. Dis klipharde gevolgtrekkings wat deur statistieke gesteun word en wat in die openbare gesprek oor Afrikaans op universiteit na my beste wete nooit betwis is nie. Dit kan gewoon nie ontken word nie.

Maar die Engels-voorstanders laat nie slegs na om alternatiewe navorsing te doen of aan te haal nie (hulle kán nie); erger nog: Hulle ignoreer dergelike bevindings eenvoudig.

En dan kom hulle weer met die mantra dat dit nie ’n universiteit se taak is om ’n taal te “red” nie. So asof jy daardie argument nooit weerlê het nie.

Die universitêre taaldebat is loshande die frustrerendste waaraan ek ooit deelgeneem het. Jy praat met mense wat oorpluisies in hul ore gestop het en hul formule eenvoudig oor en oor herhaal.

Dit geld nie slegs vir akademies ongevormde mense soos Max du Preez nie, maar ook vir professore en doktore, mense soos proff. Wim de Villiers, Jonathan Jansen, Anton van Niekerk, Danie Brand en Karin van Marle. Dit spyt my dat ek dit so sê, maar ek moet: Hulle voldoen nie aan my idee van goeie akademici nie. Maar miskien verstaan ek hulle in my eenvoudigheid verkeerd. Ek is immers slegs ’n joernalis, iemand waarop hoge akademici dikwels neerkyk.

’n Ander element van hul mantra is dat Afrikaans uitsluit en dat Engels insluit. Om dit onakademies reguit te stel: Dis pure twak. Jy kán Afrikaans inderdaad gebruik om mense uit te sluit, maar as jy belê in ’n omvattende program om mense Afrikaans te leer, gebruik jy die taal om mense juis ín te sluit.

Afrikaans moet inderdaad nie ’n voorwendsel vir neo-apartheid wees nie. Ja, daar is diegene – ’n mens dink byvoorbeeld aan Dan Roodt en sy trawante – wat wel so dink. Maar verreweg die meeste Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes is al lankal by daardie stasie verby.

Daar moet ’n vaste plek vir Afrikaans aan sekere universiteite wees. Dié stelling is akademies stewig onderleg. En bowendien is dit ’n kwessie van menseregte.

Maar nou ja, hoe dring ’n mens deur die oorpluisies van die Engels-drywers heen?

CV

Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator en historikus.

Afrikaans op Kampusse: Bydrae deur prof. Jaap Steyn kan hier gelees word.

Afrikaans op Kampusse 2: Dr. Annette Jordaan kan hier gelees word.