Spyskaart +

Afrikaans op die Suid-Afrikaanse kampusse

Januarie 30, 2017 deur afriministrator

Deur: Marinus Wiechers

Die afgelope tyd is daar geweldig baie geskryf en bespiegel oor die toekoms van Afrikaans op die eertydse tradisioneel Afrikaanse kampusse, veral oor die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal. So ’n bekommernis is verstaanbaar, want hierdie kampusse het ten eerste bekend gestaan as Afrikaanse universiteite omdat daar hoofsaaklik in Afrikaans klas gegee is.

Daar moet egter besef word dat die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal baie ander implikasies meebring wat ook ernstig besef moet word. 

Afrikaans as onderrigtaal

Afrikaanstalige universiteite spook ewe dapper met taalbeleide, parallelle onderrigmodelle en simultane tolkdienste om te verseker dat Afrikaanse onderrig nog bewaar word. Maar sommige, soos die Universiteit van die Vrystaat, het reeds handdoek ingegooi en besluit dat Engels die hoofmedium van onderrig gaan wees.

Daar word verskeie regverdigings vir die voortbestaan van Afrikaans geopper, veral die grondwetlike reg om taalonderrig volgens vrye keuse te ontvang. Hierdie standpunt is ongetwyfeld baie geldig. Maar die kwalifikasie dat die taal van voorkeur erken moet word, is onderhewig aan die kwalifikasie dat so iets bekostigbaar moet wees. Die eenvoudige waarheid is dat dit met die afname van Afrikaanse studente nie meer bekostigbaar is om Afrikaanse klasse te behou nie.

’n Ander sterk oorweging is om na die demografiese verspreiding en sterkte van Afrikaanse huistaalgebruikers in sekere dele van die land te kyk. Die argument is dat hierdie taalgebruikers se uitsig om tersiêre onderrig in hul huistaal te ontvang nou van hul ontneem word. Hierdie is ook ’n geldige argument. Terselfdertyd is dit ook ’n feit dat baie van hierdie Afrikaanse huistaalsprekers verkies dat hul kinders in Engels onderrig word omdat Engels in die parlement, die howe, die regering en ook die besigheidswêreld de facto eintlik reeds die enigste amptelike taal geword het – ten spyte van die voorskrifte in die Taalwet dat minstens twee amptelike tale in die regeringsfeer gebruik moet word.

Wat mense nie altyd mooi besef nie, is dat die veldtogte teen Afrikaans op kampusse ’n versweë rassistiese inslag het. In die middeltagtigs het die studente op die destydse Medunsa-kampus teen die teenwoordigheid van wit studente betoog. Dié optrede het ’n blatante rassistiese aanslag gehad. Vandag, met ons Grondwet se klem op nie-rassisme, word daar nie meer openlik teen wit of bruin studente as sodanig geprotesteer nie, maar wel teen Afrikaanse onderrig, wat terselfdertyd eintlik op ’n protes teen die teenwoordigheid van Afrikaansprekende studente neerkom. Die rede vir hierdie protes is voor die hand liggend. Studente en leerders wat Afrikaanse onderrig ontvang, behaal oor die algemeen uitstekende resultate in hul eksamens en latere loopbane. Hul sukses word egter nie aan harde werk, toegewyde studies of ’n bekwame onderwysstelsel toegeskryf nie, maar omdat hulle kwansuis bevoorreg is en steeds vanuit bevoorregte posisies na universiteite kom. Teenstand teen Afrikaans word nou geregverdig as ’n stryd teen onregverdige bevoordeling.

Wat hou die toekoms in? Wat is die oplossing? Ongetwyfeld dat Afrikaanse skool- en universiteitsonderrig al hoe meer geprivatiseer moet word, soos Akademia reeds die voortou begin neem het. Wat ’n sterk en opwindende moontlikheid is, is dat eentalige Engelse universiteite hul Afrikaanse onderrig aan hierdie privaat instellings kan begin uitbestee. Met sowel volledige monitering van kursusinhoude en standaarde as ooreenkomste oor subsidiëring kan die kwalifikasies wat op dié wyse verwerf is as kwalifikasie vir hul eie kurrikula erken word. Vir die verkryging van ’n graad aan ’n Engelstalige universiteit, byvoorbeeld, geniet die vakke – veral aanvullende en byvakke – wat suksesvol by ’n geakkrediteerde, privaat Afrikaanse hoëronderwysinrigting afgelê is volle erkenning en vrystelling.

Geprivatiseerde Afrikaanse onderrig kan nie op regeringsondersteuning hoop nie; trouens, daar is reeds regeringsuitsprake wat antagonisties teen sulke Afrikaanse inrigtings is. Die sukses van hierdie inrigtings gaan al hoe meer moet steun op die oortuigings van Afrikaanssprekendes vir wie hul taal dierbaar en ’n kosbare, onuitwisbare bate is.

Die gevaar is dat privaat Afrikaanse skole en universiteite nie op hul beurt in ’n rassistiese slaggat mag val en studente bloot op kleur en agtergrond wegwys nie. Wat wel ’n legitieme toelatingskwalifikasie sal wees, is ’n genoegsame vaardigheid in Afrikaans. In hierdie verband moet Afrikaanse onderwysinstansies nóú reeds op ’n moontlike toekomstige bedreiging bedag wees. Weens groeiende en bewese sukses gaan dieselfde druk as die huidige vir Engelstalige onderrig plaasvind en dan word dieselfde huidige dilemmas van vooraf ervaar. Wat hierdie instansies dus nou reeds moet onderneem, is die suksesvolle aflegging van kursusse in Afrikaanse taalvaardigheid as noodsaaklike toelatingvereiste, en om nou reeds sulke kursusse te ontwerp en in plek te kry, soos die Duitse Goethe-instituut en Franse Alliance Française dit tans doen. 

Afrikaans se plek in die universiteitsbestuur

Word Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf of verskraal, gaan Engels die taal van die universiteitsbestuur word: by vergaderings en in kennisgewings, notules en verslae. Hierdie ontwikkeling het ongelukkig reeds by die meeste universiteite gebeur – ook tradisioneel Afrikaanse universiteite. Kortom, Engels het die taal van universiteitskommunikasie geword en universiteite het op dié wyse reeds ’n Engelse karakter aangeneem. Die gevolg is dat Afrikaanse universiteitspersoneel, dosente en administrateurs sowel as studente wat vervreemd geraak het, hul lojaliteite begin inboet.

Afrikaanse akademici gaan hul ywer om handboeke en navorsingspublikasies in Afrikaans te skryf, verloor, en uitgewers gaan onwillig word om Afrikaanse boeke en publikasies te aanvaar. Ook vooraanstaande Afrikaansprekende gemeenskaps-, besigheids- en nywerheidsleiers sal al hoe meer ongeneë wees om op die rade en ander besture van ’n verengelste universiteit te dien.

Die jammerlike van hierdie ontwikkeling is dat goedopgeleide Afrikaansprekende amptenare en moontlike dosente nie baie entoesiasties gaan wees om vir poste aansoek te doen nie. Nog erger – sonder om te veralgemeen – is die gevaar dat dikwels swak opgeleide en onvaardige Engelstalige persone universiteitsadministrasies en die akademie mettertyd gaan begin beset en oorneem.

Afskaf van Afrikaans in die breër universiteitsmilieu

Die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal en taal van universiteitskommunikasie gaan droewige gevolge vir Afrikaansprekende studente op kampusse tot gevolg hê.

Afrikaanse klubs, debats-, toneel-, musiek- en ander kulturele verenigings gaan al hoe meer ontuis op die kampus voel en begin kwyn. Moontlik sal die rugbyklubs nog die laaste bastions van die Afrikanerkultuur wees, maar die moontlikheid dat die verengelste universiteitsbestuur ook op ’n kwota Engelstalige spelers in die naam van transformasie sal aandring, is miskien nie totaal vergesog nie …

Kortom, Afrikaansprekende studente gaan hulself al hoe meer in privaat koshuise en studentekomplekse buite die kampusse onttrek en dáár hul kulturele en sportsaktiwiteite beoefen, met die onvermydelike verarming van studentelewe op die kampus.

Oor baie jare het die tradisioneel Afrikaanse universiteite sterk, uitgebreide en aktiewe alumniverenigings met hoofsaaklik Afrikaanse lede gevestig. Hierdie verenigings het gesorg vir massiewe bydraes en skenkings aan hul universiteite en op groot skaal sport- en ander spoggeleenthede gereël, beurse toegeken en merietetoekennings gemaak. Word hul alma maters nou Engels, gaan die noodwendige gevolg wees dat die alumni-verenigings gaan kwyn, hul entoesiasme verloor, hul ondersteuning weerhou en ophou om soos voorheen die mobiliserende krag van die universiteit se konvokasie te wees.

Quo vadis?

Sowel studentetoelatings en -gelde as die beveiliging van en orde op kampusse is sekerlik kwessies wat universiteitsbesture se onmiddellike aandag vereis. Terselfdertyd hou die verandering van ’n taalbeleid en die afskaffing van die Afrikaanse onderrigtaal vir tradisionele Afrikaanse universiteite geweldig baie ander, ernstige implikasies in wat volledig onder oë geneem moet word, want dit is in hierdie opsig dat hulle in die storms van sogenaamde transformasie verswelg kan word as daar nie nou realistiese beplanning gedoen word nie.

Prof. Marinus Wiechers is ʼn grondwetkenner en die voormalige rektor van Unisa.