|

Afrikaans ook in Sjina geleer

Deur Alana Bailey

In ’n onlangse artikel [http://forumnuus.co.za/afrikaans-gedy-internasionaal/] berig Annelise de Vries en Jhua-Nine Wyrley-Birch oor al die lande waar Afrikaans tans as vak aangebied word.

Aan universiteite in onder meer Rusland, Pole, Oostenryk en die VSA groei die belangstelling in Afrikaans, wat maar een van slegs vier tale was wat in die twintigste eeu tot volwaardige hoëfunksie gebruikstaal ontwikkel het.  Die pragtige verhouding wat die Universiteit van Gent in België byvoorbeeld met Afrikaans het, word vandeesmaand nog verder verstewig wanneer ’n leerstoel vir die studie van Suid-Afrika op 10 Oktober 2017 daar ingehuldig word.

Terwyl oningeligte Suid-Afrikaners maar te graag die mite verkondig dat Engels die enigste groot bemagtigende taal is, is daar buite ons landsgrense versiende akademici en universiteitsbesture wat die waarde van meertaligheid insien en dus met die bou van handels- en kultuurbande ook die onderrig van Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale stimuleer.

Die jongste instelling op hierdie groeiende lys van instellings is die Beijing Universiteit vir Buitelandse Studies.  Byron Sherman wat oorspronklik ’n Engelse onderwyser was, is nou al amper nege jaar lank in Sjina.  Hy is deur dié universiteit se Skool van Asies-Afrikastudies genader om Afrikaans daar aan te bied.

Hy vertel: “Hierdie universiteit is die top plek vir taalnavorsing en -opleiding in die land en fokus nou op die uitbreiding en bevordering van Afrikatale. Dit is dus ’n wonderlike geleentheid om Afrikaans te bevorder. Die universiteit het ook Zoeloe en Xhosa klasse begin aanbied.”

Oor homself, skryf Byron: “Afrikaans is nie my eerste taal nie, maar my ouma was ’n Afrikaner en ek is basies heeltemal tweetalig. Ek kan ook vlot Sjinees praat, lees en skryf, so ons gebruik maar drie tale in hierdie klas, want vergelykings met Engels is dikwels baie nuttig.”

Op die oomblik is daar nog net vyf studente, maar hy is vol vertroue dat die belangstelling vinnig sal groei en dat daar teen die volgende semester veel meer sal wees.

In meegaande video wat deur hom aan AfriForum gestuur is, is sy studente besig om Kinders van die Wind te ontleed.

Die studente het uiteenlopende redes vir hulle besluit om Afrikaans aan te leer en te bestudeer. Byron noem dat studente in Sjina oor die algemeen tale vir praktiese doeleindes kies. Die studente by hierdie universiteit is egter na sy mening ’n spesiale groep – hulle is lief vir tale en het van die hoogste punte in die land in die Sjinese matriekeksamen gekry. Van hulle wil poste in die diplomatieke diens aanvaar, ander beoog om ’n taalgerigte loopbaan te volg.

Hy vertel verder: “Een van my studente is in Suid-Afrika gebore, maar het weer in Sjina kom bly. Hy wou net weer in kontak met iets van sy geboorteland wees. Die ander het almal Nederlands of Duits geswot en hulle was nuuskierig oor hierdie taal. Van hulle voel Afrikaans is mooier as Nederlands. Daar is seker ook ’n praktiese aspek: hulle sal hulle Nederlandse woordeskat gou kan vergroot deur Afrikaans te leer.”

By onderrig alleen, bly dit nie. Byron werk tans onder meer mee aan ’n projek oor Afrika letterkunde en dan meer spesifiek die samestelling van ’n lys van belangrike een-en-twintigste eeuse letterkundige publikasies in Afrikaans.

Dit is opwindend om te sien hoe Afrikaans tonge en harte oor die aardbol heen wen!

Soortgelyke plasings