--> -->
Spyskaart +

Afrikaans nog lank nie dood

Februarie 28, 2017 deur Annelise

Deur Gerhard Pretorius

Universiteite se besluit om Afrikaans af te skaf as medium van onderwys, bevorder eintlik die taal. Ek weet dit klink omstrede, maar luister na die argument.

Die Universiteite van Stellenbosch, Vrystaat, Pretoria en Suid-Afrika het reeds beleidsbesluite geneem om Afrikaans as onderrigmedium af te skaal of af te skaf. Sien iemand die gaping in die mark? Akademia het.

Dit is ’n privaat hoëronderwysinstelling wat nie afhanklik is van die staat se befondsing nie. By só ’n instelling kan die reëls, binne die raamwerk van die wet natuurlik, opgestel word sodat dit juis Afrikaans bevorder.

Die druk van die samelewing en tot ’n mate ook politieke druk, het ’n nismark vir Afrikaanse onderrig geskep. Binne die nismark kan ’n instelling soos Akademia bepaal wat die gehalte van onderrig is sonder enige politieke inmenging. En daar het jy dit: die versekering van die voortbestaan van Afrikaans as ’n akademiese taal.

Alles danksy ’n besluit om Afrikaans by staatsuniversiteite af te skaal of af te skaf.

En hoekom sal iemand na ’n openbare universiteit gaan as daar byvoorbeeld bedenklike aanstellings gemaak word? Dit terwyl daar ’n privaat alternatief is wat ‘n aanstellingsbeleid nastreef wat geskoei is op gehalte-onderrig. So aan almal wat bang is Afrikaans gaan uitsterf: skop maar jou skoene uit, ontspan, steek ’n vuurtjie aan. Alles gaan okay wees.

Gerhard Pretorius is ’n verslaggewer vir eNuus.