--> -->
Spyskaart +

“Afrikaans-moet-val” op universiteitskampusse en die rol van miteskepping

Maart 7, 2016 deur Anita Erasmus

Afrikaans op Kampusse: Bydrae deur dr. Annette Jordaan

Die stormagtige gebeure wat die afgelope paar weke op universiteitskampusse regoor die land plaasgevind het en besprekings waarin die voortgesette posisie (of nie) van Afrikaans dikwels prominent was, het kundiges genoop om verskeie geldige argumente te opper oor waarom Afrikaans nie as onderrigtaal uit lesinglokale van voormalige tradisioneel Afrikaanse universiteite verban behoort te word nie. Daar was onder meer opvoedkundige argumente (soos die onbetwisbare voordele van moedertaalonderrig – een van die redes, meen kenners, vir die feit dat Afrikaanse leerders oorwegend uitstekend presteer in die matriek-eindeksamen); regskundige argumente (wat verwys na die Grondwet se strewe na die billike behandeling van die elf amptelike tale en die ideaal van veeltaligheid); finansiële argumente (naamlik dat Afrikaanssprekende studente dikwels goed presteer op universiteit en ook goeie betalers is); en historiese argumente wat oortuigend dui op die onvermoeide werk van taalmanne sedert die laat 19de eeu om Afrikaans te ontwikkel tot ’n hoëfunksietaal met die terminologie om alle universitêre studievelde met vertroue te betree.

’n Ander aspek wat ook aandag geniet het, is die impak van ideologie in die “kampusgesprek” (hoewel daar ongelukkig dikwels nie sprake van ’n gesprek was voordat daar tot destruktiewe aksies oorgegaan is nie). Ek sou hierdie aspek verder wou belig deur te verwys na wat beskryf kan word as miteskepping oor Afrikaans. In ’n DLitt-proefskrif, Mites rondom Afrikaans (Jordaan, U.P., 2004), word dit duidelik gestel dat die term “mite” nie hier soos in die volksmond as vervalsing of wanpersepsie gesien word nie, maar as ’n waarheidskeppende en singewende narratief. Die bekende 20ste eeuse kundige oor mitologie, Joseph Campbell, se werk dien as uitgangspunt vir die betoog. Daar word ook verwys na Afrikaans se eie Etienne Leroux wat beweer het dat die mens eerder van die honger kan sterf as om sonder sy mite te leef. Twee belangrike maar teenstellende mites word voorts teenoor mekaar gestel: Die “liefdesband tussen Afrikaans en die Afrikaner” en “Afrikaans, die verdrukkerstaal”.

Die eerste mite oor die liefdesband tussen Afrikaans en die Afrikaner ontken nie die waarde van Afrikaans as moedertaal vir die groot groep bruin Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie. Politieke gebeure het egter veroorsaak dat daar mettertyd ’n kloof tussen wit en bruin Afrikaanssprekers ontstaan het en dat ’n beduidende aantal van laasgenoemde groep téén Afrikaans is en Engels verkies. Vir Afrikaners (hier dus wit Afrikaanssprekendes) het die liefdesband met Afrikaans egter veral ná die Anglo-Boereoorlog steeds sterker geword en gedien as simbool van lydelike verset teen die Britse Ryk en die vernedering en vergrype in die oorlog. Die erkenning van hulle taalregte was vir Afrikaners ’n teken dat alles nie verlore was nie, dat hulle as groep/volk oorleef het en ten spyte van die nederlaag teen Brittanje, hulle hul selfrespek behou het. Verengelsing sou finale oorgawe beteken het. Die bekende Afrikaanse skrywer en maatskaplike werker, Maria Elizabeth Rothmann (MER), het die strewe om Afrikaans te bly, beskryf as “ons ewige opdraand gesukkel om onsself te bly”.

Taal is natuurlik vir die meeste mense ’n teken van groepsidentiteit, maar dit is tog so dat taaltrots en die simboliese waarde van die eie taal sterker is wanneer dit deurentyd moet meeding met ’n taal wat meer prestige geniet, veral internasionaal. Een voorbeeld is die stryd van die Vlaminge teen oorheersing deur Frans teenoor die Nederlanders wat nie met ’n taalstryd in die eie land te kampe gehad het nie. Net so moes Afrikaners hulle in die eerste dekades van die 20ste eeu doelbewus teen verengelsing verset – nie net teen die Britsgesinde regering nie, maar dikwels ook teen die apatiese houding in eie geledere.

Die tweede mite, dié oor Afrikaans as die verdrukkerstaal tydens die apartheidsjare, is eweneens ’n lewende mite binne die gemeenskappe wat die taal leer ken het as die voorkeurtaal van die destydse Nasionale Party-regering. Die herinneringe aan die 1976-onluste, toe Afrikaansmediumonderrig in sekere hoërskole ook die teiken was, leef voort in die geheue van die ouer mense en is oorgedra na die jonger geslag, die huidige beswaarmakers teen Afrikaans. Afrikaans moet val as simbool van die euwels van kolonialisme en apartheid. Die ironie, naamlik dat wit Engelssprekendes in Suid-Afrika ewe veel voordeel uit wit bevoorregting getrek het en dat Britse kolonialisme groot skade in Suid-Afrika en in talle ander wêrelddele aangerig het, word volkome genegeer. Die Engelse taal word strafloos gelaat, en eerder as redmiddel omhels. Een van die argumente van die betogende groep op die Tukkie-kampus was die koste verbonde aan die herhaling van lesings om albei groepe tegemoet te kom. Dit is ’n verdere stukkie ironie dat lede van dieselfde groepering nie geskroom het om op ander kampusse kunswerke en uiteindelik geboue aan die brand te steek sonder enige gewetenswroeginge oor die koste-implikasies nie.

Die inisiatiewe in Pretoria, waar verskillende uiteenlopende rolspelers met prof. Cheryl de la Rey in gesprek getree het ter wille van die “groter belang”, ’n terugkeer na die ordelike akademiese funksionering van die universiteit, was vir alle besorgdes goeie nuus. Dit is noodsaaklik dat die opponerende groepe kennis moet neem van die mites wat steeds by albei voortleef. ’n Karakter in André P. Brink se roman, Anderkant die stilte, sê: “Ons het baie stories en al die stories is waar. Jy moet net reg leer luister.” Afrikaners het die plig om te luister na die seer wat aan ander gedoen is. Maar Afrikaanse mense het óók ’n storie. En Afrikaans is die leitmotief in daardie verhaal…

Afrikaanse studente is oor die algemeen Engels goed magtig. Dit geld ook studente wat hulle hele skoolloopbaan in ’n Afrikaanse skool deurgemaak het. Hulle sal wel die mas kan opkom as hulle op tersiêre vlak net in Engels onderrig ontvang, hoewel hulle – soos ook die meeste swart studente – nie in dieselfde mate bevoordeel sal word as een van die kleinste studentegroepe aan voormalige tradisioneel Afrikaanse universiteite nie: Die eerstetaalsprekers van Engels. Die grootste probleem lê dus nie hier op opvoedkundige gebied nie, maar binne die psige van die Afrikanergemeenskap: Die “liefdesband” met Afrikaans is steeds vir baie lede van dié gemeenskap, afgesien van politieke affiliasies of verskillende sienings van die verlede, ’n lewende en singewende mite. Besluitnemers by die genoemde universiteite sal twee keer moet dink voordat hulle ’n taalbeleid implementeer wat die band met Afrikaans simbolies deurknip en sodoende die Afrikaner se “opdraande stryd” van meer as ʼn honderd jaar tevergeefs verklaar.

Dr. Annette Jordaan

(Tot met aftrede in 2015 ’n dosent in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.)

CV van dr. Annette Jordaan

 

Afrikaans op Kampusse: Bydrae deur prof. Jaap Steyn kan hier gelees word.