|

Afrikaans in die regsberoep

Deur: Willie Spies

Die geskiedenis van Afrikaans as regstaal is ’n geskiedenis van stryd.

Met die stelselmatige opkoms van Afrikaner-Nasionalisme, die vertaling van die Bybel in 1933, en beperkte onafhanklikheid van die Unie van Suid-Afrika met die aanvaarding van die Statuut van Westminster, die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1924 en die gevolglike bewind as eerste minister van generaal J.B.M. Hertzog van 1924 tot 1939, was die tafel gedek vir Afrikaans om ook hoër funksies te verwerf as wat die geval tot in daardie stadium was.

Reeds so vroeg as 1920 het regsgeleerdes aan die Universiteit van Stellenbosch van Afrikaans as onderrigmedium in die doseer van regte gebruik gemaak.

In 1933 het die appèlafdeling van die hooggeregshof (soos die hoogste hof van appèl destyds bekend was) vir die eerste keer in die geskiedenis, in die saak van Souter vs. Norris (1933 AD 41), ’n uitspraak in Afrikaans gelewer.

Daarna het verskeie mylpale gevolg, soos die uitgee van ’n Engels-Afrikaans regswoordeboek en die hersiening daarvan in 1949 deur Hiemstra en Coertze, die stigting van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (as eerste vaktydskrif in Afrikaans) in 1937, gevolg deur die publikasie van Oud-Hoofregter L.C. Steyn se boek, Uitleg van Wette, in 1946.

Appèlregter Frederik Willem Beyers het ’n belangrike rol gespeel deur Afrikaans as hoftaal in sy uitsprake en verslae te gebruik. In 1937 het Afrikaans selfs meer veld gewen toe ’n Engelssprekende regter, R.P.B. Davis, sy hofuitspraak in die Kaapse Hooggeregshof in die saak van Lategan vs. Union Government in Afrikaans gelewer het.

Volgens Hiemstra het dit aanleiding gegee tot die groei in gerapporteerde hofuitsprake in Afrikaans: 4.47% in 1948 en 27% in 1968.

Bogenoemde is maar net ’n uittreksel uit ’n lang geskiedenis van stryd om Afrikaans sy plek te laat volstaan in die regswêreld.

Ongelukkig het die opkoms van Afrikaans as regstaal in die 1990’s begin taan en uiteindelik het die vyande van Afrikaans dit reggekry om Afrikaans eers by die tradisioneel Afrikaanse universiteite van Pretoria en die Vrystaat uit te skakel en by die Universiteit van Stellenbosch aansienlik af te skaal.

Vandag bied slegs die Universiteit van Stellenbosch en die Potchefstroom kampus van die Noordwes Universiteit nog LLB-programme in Afrikaans aan.

Pogings van AfriForum om die uitwissing van Afrikaans by die Universiteit van Pretoria en die Vrystaat met regsoptrede te keer, was met die aanvang suksesvol ten opsigte van die Vrystaat, maar die aanvanklike suksesvolle uitspraak van die Vrystaatse hoër hof is deur die hoogste hof van appèl omgekeer. Die konstitusionele hof het AfriForum se appèl teen die uitspraak van die hoogste hof van appèl van die hand gewys, sonder om mondelinge argumente aan te hoor en die hoër hof in Pretoria het die hersieningsaansoek teen die besluit van die raad van die Universiteit van Pretoria om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, met koste van die hand gewys.

Kort daarna het hoofregter Mogoeng Mogoeng ’n direktief uitgereik wat verklaar het dat Engels voortaan die enigste taal van rekord in alle howe sou word.

Die Kaapse aktekantoor het verlede jaar ’n omsendbrief uitgestuur wat gelas dat alle aktes wat daar ingedien word, voortaan slegs in Engels mag wees. Hierdie reël geld egter nog nie by ander aktekantore nie.

Die feit is egter dat Afrikaans afgeskaal is en ’n stryd van meer as 80 jaar wat sedert die 1930’s gevoer is om die taal tot sy reg te laat kom, deur die vyande van Afrikaans ongedaan gemaak is.

Waar laat dit die Afrikaanse regspraktisyn?

Volgens die 2011 sensus syfers is daar 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes in die land. Dit is 13,5% van die bevolking, wat Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika maak. In die westelike helfte van Suid-Afrika, wat die hele Noord-Kaap, die hele Wes-Kaap, die westelike dele van die Oos-Kaap en die Suidwestelike dele van die Vrystaat insluit, word Afrikaans steeds deur die meerderheid van die bevolking gepraat. In die Tshwane Metropolitaanse gebied waar die hoofstad, Pretoria, geleë is, praat meer as 520 000 van die munisipaliteit se nagenoeg driemiljoen inwoners Afrikaans.

Volgens navorsing van die Solidariteit Navorsingsinstituut is Pretoria een van die gebiede in die land waarheen Afrikaners trek en behoort die hoeveelheid Afrikaanssprekendes rondom Pretoria in 2020 heelwat meer as vandag te wees.

Daar is dus genoeg Afrikaanse mense in die land om vir genoeg Afrikaanse regspraktisyns werk te gee. Twee Afrikaanse sakemanne wat ’n kontrak wil sluit, ’n Afrikaanse egpaar wat ’n huwelikskontrak wil verkry of ’n privaat individu wat sy of haar boedelbeplanning wil doen en ’n testament benodig, verkies steeds regsdokumente wat in keurige Afrikaans opgestel, verstaanbaar, eenvoudig en uitvoerbaar is.

Met die opkoms van alternatiewe geskilbeslegting eerder as hofprosesse om veral kommersiële dispute op te los is daar ook ‘n reuse geleentheid vir Afrikaanse regslui om ons taal lewend te hou in ‘n burgerlike regstelsel wat onafhanklik staan van die verval en politieke inmenging waaronder  staatsinstellings gebuk gaan.

Akademia bied reeds ‘n B Comm (Regte)-graad aan en ‘n BA (Regte) sowel as ‘n LLB-graad volg binnekort.

Daar is genoeg Afrikaanssprekendes in die land om Afrikaans in die regsprofessie, wat by uitstek ‘n professie van taal en woorde is, lewend te hou verder te ontwikkel en te laat groei.

Dit gaan egter werk en toewyding verg. Dis nie onmoontlik nie, ons voorouers het onder veel moeiliker omstandighede baie vermag om ons taal te laat groei. Ons kan dieselfde en selfs meer doen. Laat dit ons erns wees!

Willie Spies is prokureur en direkteur in die regsfirma Hurter Spies Ing. en lid van die Regspraktisynsraad van Gauteng

Soortgelyke plasings