|

Afrikaans glo nie “verwater” by Maties, maar moenie vrede vertrou, maan AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die Universiteit van Stellenbosch (US) se uitvoerende komitee (UK) se mosie wat die waarborg gegee het dat die Afrikaanse aanbod aan die US nie in 2016 “verwater” sal word nie.

Die skielike ommekeer kom nadat die UK ’n mosie aanvaar het wat bevestig het dat die taalaanbod in 2016 dieselfde aan die universiteit sal bly. Die aanvaarding van die mosie spruit uit ’n besprekingsdokument wat prof. Wim de Villiers, rektor, en sy bestuurspan verlede week bekend gemaak het waarin Engels die primêre voertaal by die US gemaak sou word.

De Villiers het die besprekingsdokument ook aan senaatslede gestuur kort voordat dit op ’n buitengewone senaatsvergadering bespreek sou word.

’n Taalstorm het letterlik die naweek om die kop van De Villiers en sy bestuurspan losgebars nadat hy onder meer die standpunt ingeneem het dat dit nie die US se verantwoordelikheid is om die voortbestaan van Afrikaans te waarborg nie.

Prof. Christo Viljoen, voorsitter van die US-konvokasie, het De Villiers se besluit in die media veroordeel en gesê hy is deur konvokasielede oorval wat wou weet wanneer dié besluit om hoofsaaklik Engels te gebruik, geneem is.

Prof. Hermann Giliomee, historikus en akademikus wat hom reeds jare vir die behoud van Afrikaans aan Stellenbosch beywer, meen dit is verregaande om te wil sê die US het nie ’n verpligting teenoor Afrikaans en Afrikaanssprekendes nie.

Net soos wat Giliomee meen die universiteit se historiese wortels lê in Afrikaans en dat die voortbestaan van die taal nog altyd aan sy identiteit gekoppel was, het ontstoke sosiale media-gebruikers ook vandeesweek hul misnoeë oor die taalaankondiging te kenne gegee. Die besluit is onder meer as ’n “skande” en “verraad teen Afrikaans” bestempel. Daar is ook gevra of die US-bestuur hiermee te kenne dat Afrikaanse ouers en studente se geld ook nie in die toekoms vir die US goed genoeg sal wees nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hoewel die mosie verwelkom word dat Afrikaans nie volgende jaar “verwater” sal word nie, is dit juis in die lig hiervan nog moeiliker om die bestuur van die US te vertrou.  “Die verklaring van die bestuur verlede Donderdag, naamlik dat Engels die verstektaal van die US sal word, is duidelik uitgereik sonder dat die bestaande kanale geraadpleeg is.  Die vraag ontstaan nou of die rektor en bestuur dit uit onkunde gedoen het, of juis om ʼn anti-Afrikaanse klimaat te skep wat die uitfasering van die taal op akademiese en administratiewe gebied kan vergemaklik.”

 

Sy meen die bestuur se verbintenis tot Afrikaans is nie te vertrou nie, dat hulle selektief met studente konsulteer, dat hulle nie insig het in die verband tussen moedertaalonderrig en akademiese uitnemendheid nie, dat hulle kennis van grondwetlike en taalregte veel te wense oorlaat en dat alumni, studente, voornemende studente en donateurs die situasie fyn moet dophou en nie moet glo dat die stryd om Afrikaans se posisie op die kampus te beskerm, nou gewonne is nie.

AfriForum Jeug het ook tot die stryd toegetree en meen die organisasie se Maties-tak, Maties alumni en ander studente sal ook voortgaan om volgehoue druk op die universiteit te plaas om Afrikaans te behou.

Bernard Pieters, AfriForum Jeug se woordvoerder by Maties, het gesê studente weet nou wat (prof.) De Villiers se standpunt oor Afrikaans is. “Hy skep ʼn onnodige anti-Afrikaans klimaat op die Maties-kampus wat nie die realiteit is wat studente ondervind nie.”

Die universiteit het intussen gesê op grond van kommentaar in e-posboodskappe, op sosiale media en in die tradisionele media, is dit duidelik dat die huidige posisie en die pad vorentoe uitklaring benodig. ʼn Duidelike onderskeid moet getref word tussen a) taal-implementering en b) veranderings aan die taalbeleid van die Universiteit.

Die universiteit verduidelik die situasie soos volg:

  1. Studente sal in 2016 in Engels en in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch kan studeer, soos aangedui in die taalspesifikasies in fakulteite se jaarboeke, maar prioriteit sal geskenk word aan die implementering van bykomende ondersteuningsmeganismes om te verseker dat studente nie uitgesluit word as gevolg van Afrikaans nie.
  2. Stellings wat verband hou met die ‘val van Afrikaans en die opkoms van Engels’ is ‘n oorvereenvoudiging van taal-implementering aan die universiteit. Afrikaans sal nie verwater word as gevolg van die uitbreiding van die Engelse aanbod nie; en studente wat verkies om in Engels te studeer sal ondersteun word om dit te doen.
  3. Die feit dat die taalbeleid as gevolg van statutêre riglyne nie voor die einde van 2015 verander kan word nie, moenie gesien word as ʼn instrument om Engelssprekende studente te benadeel nie.
  4. Die doel van die versnelde implementering van die taalplan, met ʼn spesifieke fokus op parallelmedium -onderrig (PMO), is om te verseker dat geen student uitgesluit word van ʼn duidelike begrip van die akademiese aanbod op grond van taal nie. Dit sal, met onmiddellike effek vanaf 2016, die uitbreiding van parallelmedium -klasse (aparte Afrikaanse en Engelse lesings), en ander ondersteuningsmeganismes behels wat sal verseker dat geen student uitgesluit word van en onderriggeleenthede as gevolg van Afrikaans of Engels nie.
  5. Hierdie versnelling noodsaak nie veranderings aan die huidige taalbeleid nie aangesien die uitbreiding van beide die Afrikaanse en Engelse aanbod in ooreenstemming is met die beleid wat in November 2014 goedgekeur is. Aanvanklik was die doel om ʼn 75% aanbod in beide Engels en Afrikaans teen 2020 te hê, maar hierdie jaar het getoon dat die belange van ons studente ʼn drastiese versnelling van verbeterde meganismes vir taal-implementering noodsaak.
  6. Die verklaring deur die US se bestuurspan is uitgereik as ʼn besprekingsdokument om hul ondersteuning aan te dui vir maatreëls om die leerervaring van studente wat nie ʼn akademiese geletterdheid in Afrikaans het nie, te verbeter. Die bestuur se verklaring is nie ʼn beleidsdokument nie. Die statuut van die universiteit bepaal dat slegs die raad die taalbeleid na ʼn proses van konsultasie en met instemming van die senaat kan verander. Die feit dat die taalbeleid nie voor die einde van 2015 kan verander nie, beteken nie dat die implementeringsmaatreëls hierbo beskryf, nie kan voortgaan nie. Die bestuur verseker dat die taalplein ooreenstem met die taalbeleid, en is ook verantwoordelik vir die implementering daarvan. Dit is bestuur se prerogatief om die goedgekeurde minimum-aanbod uit te brei.
  7. Die verklaring deur die bestuur is nog nie amptelik by enige universiteitsforum ter tafel gelê nie, maar dit sit die bestuur se uitgangspunte na samesprekings met verskeie studentegroeperings sedert Mei 2015 uiteen. Dit is ook nie akkuraat dat die bestuur sy verklaring teruggetrek het nie. Dit bly ʼn besprekingsdokument met uitgangspunte vir gesprek met verskeie belangegroepe, onder meer ook die senaat en die raad. Die bestuur is ten volle daarvan bewus dat sommige uitgangspunte in hierdie verklaring veranderinge aan die huidige taalbeleid en taalplan mag vereis, en bestuur bly daartoe verbind om die voorgeskrewe proses te volg om sodanige voorstelle ter tafel te lê by die tersaaklike statutêre liggame voordat dit by die raad ingedien word.

Dr. Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê die akademie was verstom oor die nuus oor Afrikaans aan die US. Sy hoop dat die raad op 30 November ’n goed gefundeerde besluit oor Afrikaans sal neem. Die akademie meen as Engels as verstektaal by die universiteit gebruik word, sal dit getuig van ’n totale miskenning van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal.

 

 

 

Soortgelyke plasings