--> -->
Spyskaart +

AFRIKAANS IN DIE BEROEPSWÊRELD: Eiendomsmark

Mei 15, 2019 deur Mareli Rall

Afrikaans in die eiendomsmark en diskriminasie daarteen as besigheidstaal

Vandeesmaand se blog oor Afrikaans in die beroepswêreld spruit voort uit ‘n e-pos wat AfriForum van Marius Burger, ’n direkteur van The Agent Realtors ontvang het.  Marius het eerstehands getuig hoe ’n voorsprong die gebruik van Afrikaans vir hulle in die eiendomsmark bied.  Hy het egter ook die frustrasie beleef van die gebrek aan Afrikaanse web-advertensiespasie vir eiendomsagente.  AfriForum het Property24 gekontak, maar soos Marius, het ons die volgende boodskap van hulle ontvang:

Please note that Property24 serves users around the world and strives to offer an excellent browsing experience for all. Our technology and operational systems can only be optimised for one language and as such, Property24 requires listings to be loaded uniformly in English.

Our quality monitoring systems and listing rankings are dependent on these language settings, to ensure the best possible experience for both agents and consumers. As such, all listings loaded to Property24 are required to be in English.

Hierdie antwoord en Marius se entoesiasme het ons geïnspireer om aan die werk te spring om ‘n Afrikaanse eiendomsbemarkingsblad te skep.  Hou gerus ons media-aankondigings dop vir meer inligting hieroor.  Lees intussen wat Marius oor sy ervaring met Afrikaans in sy beroepsomgewing vertel.

Hy skryf:

The Agent Realtors is ’n eiedomsmaatskappy wat hoofsaaklik in die Suid-Kaap sake doen.  Alhoewel die meeste van ons kliënte (verkopers en kopers) Afrikaanssprekend is, doen ons weens die aard van eiendomsverkope besigheid in Afrikaans en Engels,.  Al ons kontrakte is in beide tale beskikbaar.  Dus stel ons by ’n transaksie waar die verkoper en koper, of verhuurder en huurder beide Afrikaanssprekend is, hulle in staat om besigheid in hulle moedertaal te doen.  Ons huurders, verhuurders, kopers en verkopers is 90% Afrikaanssprekend.

Ons maak hoofsaaklik van die Property24– en Private Property-webwerwe gebruik vir bemarkingsdoeleindes.  In al die jare sedert The Agent Realtors se ontstaan, kon ons (banke ingesluit)  sake in Afrikaans doen.  In April vanjaar (2019) het ons vir die eerste keer diskriminasie teen Afrikaans ervaar, toe Property24 ons versoek het om die bewoording van ons advertensies in Engels te vertaal.  Hulle motivering is dat hulle voorsiening maak vir oorsese kopers ook.

Ons ervaring is dat hierdie redenasie van Property24 nie water hou nie.  Ons het byvoorbeeld pas ’n voornemende koper uit Sjina ontmoet wat op ’n advertensie van ons van ’n eiendom wat ons in Afrikaans adverteer, reageer het.  Natuurlik kan hy glad nie Afrikaans verstaan nie, maar het vir my ’n Whatsapp-boodskap gestuur en het ons só gekommunikeer tot ons ontmoet het.  So is daar vele van die ander kliënte wat ook oor ons Afrikaans-geadverteerde eiendomme navraag doen, wat net Engelssprekend is.  Die teenstand teen Afrikaanse advertensies maak net nie sin nie.

Ons ondervinding is dat kliënte ons kontak omdat ons in Afrikaans adverteer.  Indien vier agentskappe almal dieselfde eiendom in Engels adverteer, terwyl ons advertensie in Afrikaans is, kontak hulle ons.  Hulle noem pertinent dat hulle verkies om in hulle taal bedien te word.

Weens die blootstelling wat ons op Propert24 kry, moes ons noodgedwonge aan hulle voorwaardes voldoen, maar ek voel dat daar ’n soortgelyke platform geskep moet word vir verkopers, kopers, verhuurders en huurders wat sake in hulle moedertaal wil doen.

’n Alternatiewe platform kan met sukses daar gestel word vir eiendomsagente om hulle advertensies ook in Afrikaans te kan plaas.  ’n Mens moet besef dat dit nie net oor eiendomsagente gaan wat ’n bemarkingsplatform soek nie, maar ook kliënte wat behoefte aan ’n markplek het waar hulle met iemand kan besigheid doen wat hulle taal praat.  Dit beteken dat in die meeste transaksies, daar 3 partye sal wees wat ter sprake kom en wat in hulle moedertaal besigheid kan doen.  Banke en prokureurs kom ook nog ter sprake.  Ons ervaring bewys dus dat die behoefte daar is en dat Afrikaans vir ons beslis ’n markvoordeel bied!

Groete Marius Burger

Direkteur

Omtrent The Agent Realtors: Ons het omtrent 15 jaar gelede tot die eiendomsmark toegetree as verband tussengangers en het die Agent maatskappy in 2013 gestig. Ons konsentreer op ontwikkellings en plase, en doen ook residensiële en industriële verhurings en verkope. Ons is deel van ’n professionele span met die die beste grondkundiges en landboukundiges wat deel uitmaak van die span. Ons kantoor is in Hersham, Groot Brakrivier en bedien ’n area wat van Victoria-Wes tot Stellenbosch strek.  Ons webadres is www.theagentrealestate.co.za.