--> -->
Spyskaart +

Afrikaans as beroepstaal: Die media, ʼn joernalis en die taal wat my gekies het

April 23, 2019 deur Admin

Deur Esté Meyer Jansen

Partykeer is dit goed om die geleentheid te kry soos hierdie waar ʼn mens gevra word om ʼn bietjie stil te staan en na te dink oor jou loopbaan en wat Afrikaans vir jou in jou beroep tot dusver beteken het.

My eerste vraag was dadelik: Wat skryf ek? Ek beskou myself nie noodwendig as ʼn taalaktivis nie. Ek het nie ʼn doelbewuste besluit gemaak om elke keer Afrikaans te kies nie.

Terwyl ek my loopbaan onder ʼn vergrootglas plaas, kom ek tot die gewaarwording: Afrikaans het mý as’t ware elke keer oor die meer as 15 jaar in die media gekies.

Van my kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, daardie eerste paar onbeholpe onderhoude vir ʼn geleentheid om by radiostasies en koerante te werk, tot daardie eerste volwaardige onderhoud met die Pretoriaanse rockgroep The Narrow – dit alles het in Afrikaans plaasgevind.

Elke geleentheid om agter die mikrofoon in ʼn ateljee in te skuif, ʼn kamera op te tel en besonderse mense met besonderse verhale te ontmoet, was in Afrikaans.

Woorde wat ek noukeurig gekies het om lesers te inspireer met ongelooflike stories van hoop, of wanneer ek hulle gevra het om saam te staan vir ʼn saak – dit het elke keer ook in Afrikaans gebeur.

En nou, hier waar ek vir Maroela Media in en met my moedertaalwerk kan werk, besef ek opnuut watter prominente plek die taal en ʼn liefde daarvoor in my lewe ingeneem het. Ek kan net sê ek is oneindig dankbaar daarvoor.

Hierdie webwerf wat aanvanklik in 2011 begin het as die eenvoudige idee om ʼn kuierplek op die internet in Afrikaans te bied, het gegroei tot ʼn volledige nuuswebwerf wat nou met gevestigde nuusportale en koerante meeding om die belangrikste nuus daagliks, vars en digitaal aan die meer as 1,5 miljoen lesers, wat maandeliks ons webwerf kom besoek, te verskaf.

Dit is ook hier waar ek die geleentheid gegun word om elke dag te doen waarvoor ek die liefste is: Daar word dikwels gesê nuusberigte is  die eerste rowwe konsep van die geskiedenis en ek kry die geleentheid om dit neer te pen en dié stories met Maroela Media se lesersgemeenskap te deel.

Boonop is Maroela Media ook die plek waar ek help om 57 gemeenskapradiostasies se hande sterker te maak deur hulle van gratis Afrikaanse inhoud van gehalte te voorsien.

Elke jaar staan ons in die nuuskantoor verstom om te sien wat ons as ʼn klein, maar gedugte redaksie vermag het. Die soort en hoeveelheid stories wat ons gedek het, die positiewe terugvoering wat ons ontvang, en elke leser wat besluit om weer en weer Maroela Media te besoek om ons berigte te lees.

Dit alles sou nie moontlik gewees het nie as die drome vir Maroela Media gegroei het tot op die punt waar ons dié nuuswebwerf wil wees wat mense se eerste keuse vir inligting en inspirasie in Afrikaans te wees. En dit is wonderlik, en byna ook ongelooflik, om te dink ek is nou al so lank deel van hierdie droom om die Afrikaanse gemeenskap te bedien.

Verkorte CV:

Esté Meyer Jansen werk by die Afrikaanse nuuswebwerf Maroela Media. Sy is reeds sewe jaar deel van dié mediahuis wat een van die grootste Afrikaanse nuuswebwerwe in Suid-Afrika is.

Haar 15 jaar-ondervinding in die mediabedryf het amptelik begin by gemeenskapkoerante waar sy die kans gehad het om elke aspek van die nuuskantoor te verken. Nou spits sy haar voltyds toe op nuus in digitale formaat waar sy, onder meer, help om nuusgebeure te ontleed.

Esté is ʼn Noordwester in murg en been en dit was tydens haar kommunikasiestudies aan die NWU waar die mediagogga haar vir die eerste keer gebyt en eenvoudig nooit weer gelos het nie.

Meer as ʼn dekade later is sy steeds net so passievol oor die plaaslike medialandskap en mense se stories as die dag toe sy haar eerste nuusberig geskryf het.