--> -->
Spyskaart +

Afrikaans as beroepstaal 2 – Afrikaanse geskiedskrywing

Maart 20, 2019 deur Alana Bailey

Hoewel ek sedert 2005 by AfriForum werksaam is, is ek opgelei as kultuurhistorikus.  Hierdie beroepsrigting (of is dit ’n lewenswyse?) sal altyd my passie bly.

My studie in hierdie rigting het in 1984 aan die Universiteit van Pretoria begin.  Daar is ek geskool deur wonderlike kenners op hierdie terrein, insluitend proff. Cobus Ferreira, Piet Nel, Floors van Jaarsveld en Johan Bergh, asook dr. Celestine Pretorius.  Hulle het my ’n liefde vir die geskiedenis geleer, maar ook die verantwoordelikheid om deurgaans objektiwiteit in my navorsing na te streef en hard te werk om publikasies in keurige formaat en taal te lewer.

Soos ’n mens uit die name kan aflei, was hulle almal Afrikaanssprekend.  Tog het hulle beklemtoon dat ’n mens nie net op Afrikaanse bronne en historici se werk kon staatmaak nie, maar meertalig moes kon werk om enige historiese kwessie uit alle hoeke te kon beskou.  Ek het vir ’n kort rukkie selfs by prof. A.P.J. van Rensburg klas gehad en onthou dat hy telkens herhaal het dat ’n goeie akademikus minstens vier tale vlot moet kan praat en lees, en verkieslik ook skryf.

In die jare 1984 tot 1986 was die fokus van Kultuurgeskiedenis by Tukkies besonder interessant.  Die vak se amptelike naam was toe Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis (ANK) en ons het Nederlandse, Vlaamse en Afrikanergeskiedenis bestudeer.

Omdat ek in Afrikaans studeer het, het ek nooit enige probleem gehad om Afrikaanse, Nederlandse of Vlaamse bronne te bestudeer nie.  Ek kon direk met die oorspronklike bronne werk – sommige van hulle meer as 300 jaar oud – sonder dat ek op enige vertaler se vernuf of interpretasie moes staatmaak.  Tog kon ek ook Engelse bronne gebruik.  Soms kon my kennis van Afrikaans en daardeur Nederlands, ook help dat ek Duitse bronne kon verstaan.

Die gevolg hiervan is dus nie alleen dat ek deur my moedertaal meer tale kon leer en dus meer oorspronklike bronne en sienswyses kon bestudeer nie, maar dat ek ook in die verwerking en weergee van die kennis, die somtotaal van al die tale aan Afrikaanse lesers kon deurgee.  So word brûe na weerskante gebou en baat nie net een taalgroep nie.

Soos kollega Ilze Nieuwoudt dit stel:  “Taalkennis maak nie net deure oop vir die navorser nie, maar sluit ook ’n wêreld oop vir die leser.  Iemand wat byvoorbeeld kennis van Hebreeus of Grieks het, kan deur hul skryfwerk die wêreld van antieke gemeenskappe vir die moderne leser toeganklik én verstaanbaar maak in hulle eie taal.  Die historikus tree dus eintlik op as ’n “vertolker” van die verlede en “middelman” tussen die gebeure van die verlede en die hedendaagse leser.  Deur taalkennis kan dit beter oorgedra word aan dié wat nie die oorspronklike bronne se tale kan verstaan nie.”

Nagraads is ons verplig om publikasies vir wetenskaplik geakkrediteerde bronne te skryf.  Ek het in beide tale gepubliseer.  Die Britse dokter, Samuel Silverthorne Bailey, wat in die 1800s aan die Kaap gepraktiseer het, het my geïnteresseer.  Hy was geensins verwant aan my nie.  Min is oor hom geskryf en tog was hy ’n baie fassinerende man wat na ryk en arm omgesien het in ’n tyd toe gekwalifiseerde dokters eintlik net ryk pasiënte bedien het.  Sy grafsteen is steeds teen die muur van die St. George-katedraal in Kaapstad te sien.  Oor hom kon ek nie in Afrikaans skryf nie, want hy was Engelsman in murg en been tot sy dood en met my biografiese artikel oor hom wou ek eer betuig aan hom in sy taal.  Dan het ek weer navorsing gedoen oor Willem Prinsloo, na wie die museum vernoem is.  Oor hierdie Transvaalse pionier kon ek ewe min in Engels skryf – hy het bowenal erkenning in Afrikaans verdien.  In my geval het die tema dus die taal van my publikasies bepaal, maar die belangrikste was, deurdat ek beide in Afrikaans en Engels kon skryf, het ek die geleentheid gehad om te kies en ook toegang gehad tot meer publikasies waarin ek kon publiseer.  Dis taalkeuse is ’n persoonlike kwessie en juis daarom is dit lekker om opsies te hê.

Van my Afrikaanse publikasies is al deur Nederlandse, Sweedse en Duitse navorsers geraadpleeg en ons kon later deur middel van Afrikaans en Engels daaroor korrespondeer.  Die ou argument dat die publikasie van navorsingsresultate in Afrikaans jou van die internasionale gemeenskap afsluit en dat net Afrikaanssprekendes van jou sal weet as jy in Afrikaans skryf, is totale snert.  Die gehalte van jou werk en die temas daarvan sal jou in die internasionale kollig plaas, nie die taal waarin jy publiseer nie.

Terreine waarop ek die meeste gefokus het in my tyd as voltydse navorser, was die vroeë koloniale geskiedenis en die Groot Trek.  Hier was toegang tot oorspronklike bonne in Nederlands, vroeë en hedendaagse Afrikaans noodsaaklik.  Ek sou nie oor hierdie tye kon lees, skryf of publiseer op die vlak wat ek gedoen het, as ek nie in Afrikaans geskool was nie.  Dit gaan immers nie net om die gebruik van die taal nie, maar onder meer ook om die sensitiwiteit vir nuanses in ’n beskrywing te ontwikkel, asook om oor kennis van die volksaard van die skrywer van ’n bron te beskik.  Om die betroubaarheid van ’n bron te kan bepaal, is so ’n breër kennis onontbeerlik.

Toegegee, in enkele ander tale en oor ander onderwerpe sal ek dit ook met redelike sukses kan doen, maar nooit op die vlak wat ek dit in my moedertaal kan vermag nie.

My advies aan aspirant historici (en ek hoop daar is baie van hulle) is dus: studeer in jou moedertaal as die temas van die sprekers van die taal, en meer spesifiek jou gemeenskap, se geskiedenis jou interesseer.  Taal is deel van jou “gereedskap” as vakman op hierdie terrein.  Dit gee toegang tot bronne en bou jou insig op oor weergawes van die verlede.  As jy swak taal gebruik, gaan mense jou werk geringskat, as jy onderhoudend en geloofwaardig kan skryf, gaan hulle jou aanhou lees – soms net vir die blote genot daarvan.

Historici soos die bogenoemdes, asook Leopold Scholtz, Fransjohan Pretorius, Jackie Grobler, Alex Mouton, Albert Grundlingh, André Wessels, Matilda Burden en Hermann Giliomee is mense wat met woorde die verlede vir die res van ons laat herleef.  Hulle is almal mense wat die hoogste agting op internasionale gebied geniet en van wie vele publikasies al verskyn en uitverkoop het.  Hulle het ook in Afrikaans gestudeer en dit het nie verhoed dat hulle die hoogste sport in hierdie professie bereik nie.  Dit het wel beteken dat hulle op unieke wyse – hoewel soms wyd uiteenlopend – oor Afrikaner- en Suid-Afrikaanse geskiedenis kon skryf.

Die stem van iemand wat in Engels gestudeer het, mag moontlik tegnies net so goed oorkom, maar nie met dieselfde geloofwaardigheid en nuanse as diegene wat van binne die kultuur af in eie taal geskryf het en nog gaan skryf nie.

Om hierdie redes sal ek nooit spyt wees dat ek in Afrikaans opgelei is en my beroep as historikus eers voltyds en nou deeltyds daarin beoefen nie.