--> -->
Spyskaart +

Afrikaans as beroepstaal 1 – Afrikaanse entrepreneurskap

Februarie 6, 2019 deur Admin

Afrikaans – Emigrant of Ambassadeur? deur Charl Oberholzer

Die verskil tussen ’n emigrant en ’n ambassadeur is dat ’n emigrant in die plaaslike bevolking assimileer, sy waardes dikwels aanpas tot wat die status quo is en poog om permanente burgerskap te bekom deur ’n nuwe identiteit te aanvaar. ’n Ambassadeur is iemand wat sy eie identiteit behou, sy eie waardes behou, ander aan sy kultuur wil blootstel en met diplomasie aanhou verhoudings bou. Afrikaners in Suid-Afrika moet ambassadeurs wees, want al is Suid-Afrika ál waar ons werklik hoort, moet elke kultuurgroep homself ag – want net só kan ons ook mekaar werklik respekteer. Ons moet herkenbare waardes hê, ons taal behou en selfs daarmee spog, en met berekende diplomasie ons kultuur uitstal eerder as om te assimileer tot ’n gesiglose, eendimensionele Suid-Afrika.

So waarom doen ek sake in Afrikaans? Daar is steeds 7 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, ’n derde van alle Suid-Afrikaners wat in die LSM-groep 9–10 val praat Afrikaans en die Afrikaanse mark is verantwoordelik vir ’n vyfde (R376 miljard per jaar) van die totale besteding van Suid-Afrikaanse verbruikers. Verkoop jy motors? Wel, ’n derde van motoraankope in 2015 was deur Afrikaanssprekendes. Verkoop jy annuïteite? Afrikaanssprekendes is vyf keer meer geneig om in die toekoms te belê as enigiemand anders. Afrikaans maak nie net ekonomies sin nie, maar Afrikaans is ook deel van my samestelling, deel van my DNS. Die kultuur van my onderneming is Afrikaans. Dit beteken nie dat ons nié met Engelssprekendes sake doen nie, dit beteken bloot dat almal weet dat ons Afrikaanse werketiek het, ons Afrikaanse kliënte in Afrikaans help en beter gehalte produkte lewer omdat mense ons met ’n taal en kultuurgroep vereenselwig.

So hoe lyk dit as iemand in Afrikaans sake doen? By De Afrikander Handelshuis is ons nie net Afrikaans as gevolg van die voordele wat daarmee gepaardgaan nie (lojale kliënte, ’n gesonde kultuur en natuurlike verhoudings met baie ander Afrikaanse ondernemings), maar ook omdat ons nie emigrante in ons eie land wil wees nie. Ons is eerder ambassadeurs. Afrikaans maak dat ons uitstaan, dit maak dat ons werkaansoeke kry selfs al adverteer ons nie en dit maak dit maklik vir mense om met ons sake te doen. Want ’n Zoeloe of ’n Griek kan ook makliker hulself wees as ek Afrikaans is. Ons wil spog met ons taal, met ons Duitse gehalte, ons Franse gasvryheid en ons Hollandse karakter. Toyota is Japannees, Singer is Amerikaans en Volkswagen is Duits. Globale maatskappye se karakter is onafskeidbaar van hul kultuur. So het Afrikaans ook ’n geskiedenis van uitnemendheid, of dit nou Pieter de Villiers en Roelof Botha is wat San Francisco aan die praat hou of die feit dat die tweede MBA-graad in die wêreld, naas Harvard-universiteit, in Afrikaans was – ons is in goeie geselskap. Deur Afrikaans te wees sal ons Afrikaners laat tuis voel, en die res – ons sal hulle met uitnemendheid stomslaan sodat almal met Afrikaanse ondernemings wil sake doen.

* Oor die skrywer

Charl Oberholzer het sy Meestersgraad in Kommunikasiebestuur verwerf, is ’n gesertifiseerde praktisyn in neurolinguistiese programmering (NLP), gesertifiseerde sakekonsultant en die mede-eienaar van De Afrikander Handelshuis. Hy het in die Raad van die Universiteit van Pretoria (UP) gedien, is ’n oud-Studenteraadsvoorsitter en het drie keer erekleure vir leierskap ontvang. Charl is ook een van tien Suid-Afrikaners wat Suid-Afrika in China by die China-Africa Youth Delegation verteenwoordig het. Hy was ook een van die organiseerders van die eerste MIT Global Entrepreneurship Start-up Workshop op die Afrika-vasteland. Verder was De Afrikander Handelshuis ’n finalis in die Akademia Sakeplan-kompetisie, het twee Tinteltong-toekennings gewen en is ook benoem as een van die Toptien Afrikaanse ondernemings in Suid-Afrika.