Spyskaart +

AFRIKAANS AAN UNIVERSITEIT?

Februarie 6, 2017 deur afriministrator
Prof. Goosen

Prof. Goosen

Deur: Prof.  Danie Goosen

Oor die vraag of jy jou universiteitsklasse in Afrikaans moet bywoon, heers daar vandag dikwels twyfel onder Afrikaanssprekendes. Twee uiteenlopende standpunte kan daaroor onderskei word. Ons verwys hieronder kortliks na elkeen, waarna ons verduidelik waarom ons ten gunste van die tweede standpunt kies, naamlik dat dit steeds sin maak om jou universiteitsloopbaan in Afrikaans te voltooi.

Alvorens ons egter die twee standpunte ter sprake bring, moet daarop gewys word dat hulle ’n belangrike uitgangspunt met mekaar deel. Beide standpunte aanvaar dat Engels vandag die lingua franca van die globale wêreld is. Enigeen wat hierdie feit ontken, sê beide, is onrealisties. As ons dus hieronder ten gunste van ’n Afrikaanse universiteitsloopbaan kies, sê ons nie daarmee dat Engels onbelangrik is nie. Ook Afrikaanssprekendes moet vandag in Engels vaardig wees. Maar dit beteken nog glad nie dat ons Afrikaans op universiteit agterweë moet laat nie. Hieronder word verskeie redes aangevoer waarom dié standpunt ’n redelike standpunt is.

Maar goed, dit is waar die ooreenkoms tussen die twee uiteenlopende standpunte eindig. Ten diepste verskil hulle oor die vraag ‘hoe’ ons op die feit moet antwoord dat Engels vandag die lingua franca aan die Westerse universiteitswese is. In aansluiting by bogenoemde opmerking: Beteken dit dat daar nie plek vir die ander tale as slegs Engels aan die universiteite is nie?

Anders geformuleer, beteken dit dat ons vandag tussen Engels en ons moedertale moet kies? Sluit Engels en ons moedertale mekaar uit? Is daar nie vandag plek vir beide aan die hedendaagse universiteite nie?

Hieronder word by elkeen van die twee standpunte stilgestaan. Ter wille van die argument kan hulle die ‘sentralistiese’ en die ‘gedifferensieerde’ benaderinge genoem word.

  1. Die sentralistiese benadering

Die sentraliste gaan uit van die gedagte dat ons vandag deur die sogenaamde globale sentrum geregeer word. Nog meer, die sentraliste aanvaar dat Engels die taal van dié sentrum is, en dat die veelheid van moedertale (waaronder Afrikaans) by die sentrum en sy taal moet inval.

Indien die sprekers van die veelheid van moedertale dit nie doen nie, sê die sentraliste, loop hulle die gevaar om hulself van die globale wêreld te isoleer en hulself in sogenaamde taal-enklaves toe te sluit.Volgens die uitsprake van sommige sentraliste beteken dit nie dat die veelheid van moedertale nie ’n eie bestaansreg het nie. Sommige sentraliste sal selfs aanvoer dat die veelheid van tale belangrik is. Maar, voeg hulle gewoonlik vinnig by, die moedertale kan die beste in die privaat wêreld (dit wil sê in die spreekwoordelike ‘kombuis’) tot hulle reg kom. Anders as in die verlede hoort ’n taal soos Afrikaans nie meer in die openbare wêreld van die universiteitswese gehoor te word nie. Dáár moet die sentrum se voorkeur vir Engels die deurslag gee.

So sterk het die sentralistiese benadering ten opsigte van die universiteitswese geword dat sommige akademici aan voormalige Afrikaanse universiteite vandag selfs aggressief poog om ’n beleid van Engelse eentaligheid op almal af te dwing. Diegene wat vir universitêre Afrikaans voorspraak maak, word bykans sonder omhaal van woorde van isolasiedenke beskuldig.

Moet die sentralistiese standpunt aanvaar word? Dit word ten minste deur die volgende probleme gekenmerk:

a.) Die sentralistiese standpunt word deur ’n ou koloniale mentaliteit gekenmerk. In ooreenstemming met die koloniale tradisie ag sentraliste vandag weer ’n ‘sentrum’ (die globale sentrum) as veel beter as die sogenaamde veeltalige ‘buitekant’.

Ten grondslag van hierdie onderdanigheid aan die sentrum lê ’n oeroue probleem wat kultuur- en taalgemeenskappe aan die buitekant en op die rante van die sentrum kenmerk, naamlik hulle gevoel van minderwaardigheid. Akademici en universiteite in die sentrum is ten ene male beter, voortrefliker, ensovoorts, terwyl universiteite aan die buitekant eenvoudig nie kers kan vashou by hulle nie. So word geglo, ondanks die feit dat universiteite oor die wêreld heen dikwels net so goed en selfs beter as die groot globale universiteite presteer.

Een te midde van ander voorbeelde van die koloniale houding is die formules wat vandag die toekenning van fondse vir navorsing reguleer. Navorsingsartikels wat in (die Engelse) publikasies van die globale sentrum gepubliseer word, word ingevolge dié formules as meerderwaardig ten opsigte van publikasies in die veelheid van lokale tale beskou. Daarom word hulle ook telkens deur die universiteitsadministrasies aangemoedig en met veel groter fondse ondersteun as publikasies in die eie tale. Ons moet opleef na die voorbeeld van die universitêre sentrum, sê die minderwaardiges, want ons aan die buitekante kan nie kers vashou nie, terwyl die binnekant net soveel beter is.

Dieselfde logika van minderwaardigheid onderlê ook die navorsingsbeleid binne ’n territoriale staat soos Suid-Afrika. In plaas daarvan om op ’n selfstandige wyse ’n eie navorsingsbeleid in ooreenstemming met sy eie voorkeure na te jaag, word die voorskrifte van die globale sentrum slaafs (!) nagejaag. In plaas daarvan dat navorsing in die veelheid van tale simbolies ondersteun word, word die eentaligheidsbeleid van die sentrum ten diepste as normatief aan almal voorgehou. So word die koloniale mentaliteit, ironies genoeg dikwels in naam van dinge soos ‘anti-kolonialisme’ en ‘bevryding’, in stand gehou.

b.) Alhoewel die apologete van die sentrum (en hul medewerkers aan die buitekante en op die periferie) hulself onder die vaandel van ‘multikulturaliteit’ dikwels op begrippe soos ‘openheid’ en ‘verdraagsaamheid’ beroep (en ook telkens weer waarsku teen ‘isolasie’ in die eie taal of kultuur), is hul beroep ten diepste misleidend. Van openheid vir en verdraagsaamheid jeens die veelheid van tale en kulture is daar by hulle in werklikheid weinig sprake.

Trouens, daar kan met reg aangevoer word dat woorde soos openheid en verdraagsaamheid by hulle slegs as skynbegrippe ingespan word waarmee ’n ongenaakbare vorm van geslotenheid en onverdraagsaamheid bevorder word. Hul gebruik van dié woorde, kan ons sê, word bloot as retoriese wapens ingespan waarmee hulle die teendeel bevorder van dit wat hulle belowe. Onder die vaandel van openheid jeens die tale en kulture word ’n politiek van miskenning daarteen gevoer.

c.) Apologete van die sentrum toon dikwels weinig begrip vir die feit dat die ‘algemene’ en die ‘partikuliere’, die ‘globale eenheid’ en die ‘veelheid van tale’, ensovoorts, nie noodwendig mekaar uitsluit nie.

Anders geformuleer, sentraliste sien nie die samehang tussen die algemene en die partikuliere, die eenheid en die veelheid, raak nie. Die gevolg is dat hulle ons met ’n verstikkende ‘óf … óf’-benadering laat (in plaas van ’n benadering ingevolge waarvan ‘sowel die een as die ander’ belangrik is).

As gevolg van hierdie uitsluitende benadering word die globale sentrum (nou sonder sy samehang met die veelheid van tale en kulture) ’n verstikkend eenvormige sentrum.

Nog erger, vanweë die uitsluitende benadering wat sentraliste volg, word die wesenlike risiko geloop dat hulle self dit waarmaak wat hulle vrees, naamlik ’n veelheid van tale en kulture wat (in antwoord op die vyandige sentrum) hul rug daarop draai en in hulself toesluit. As hulle nie ’n uitsluitende benadering volg nie, maar juis ’n sinvolle plek aan die veelheid van tale en kulture gun, kan hierdie vyandskap uit die weg geruim word.

d.) Alhoewel sommige apologete van ’n eentalige sentrum hulself dikwels voorhou as vyande van die globale (korporatiewe) wêreld, lei hulle voorspraak vir Engels aan universiteite juis tot ’n ondersteuning van hierdie kragte. Terwyl akademici hul gebalde vuiste in die lug teen die korporatiewe kapitalisme rondswaai, dien hulle juis die belange van die einste korporasies.

En hoe dan anders? Daar is vandag bykans nie ’n groter krag wat sterker deur ’n beleid van eentaligheid gedien word as juis die globale korporatiewe wêreld nie.

  1. Die gedifferensieerde benadering

Die tweede benadering gaan uit van die standpunt dat die globale wêreld nie noodwendig in spanning met die veelheid van tale en kulture hoef te staan nie. Inteendeel, hoe sterker die globale wêreld beslag kry, des te belangriker word die behoefte wêreldwyd om tegelyk die veelheid van tale en kulture uit te bou en te bevorder.

Volgens die gedifferensieerde benadering hoef die verhouding tussen die globale en die veelheid van tale met ander woorde nie in uitsluitende ‘óf … óf’-terme verstaan te word nie. Inteendeel, die insluitende ‘sowel … as’ is veel sinvoller. Daarvolgens is daar vir beide plek, dit wil sê vir sowel die algemene as die partikuliere, sowel die sentrum as diegene op die periferie, sowel die eenheid as die veelheid.

Is die gedifferensieerde benadering egter prakties, word dikwels gevra. Maak dit sin om, te midde van die heerskappy van Engels, tegelyk jou klasse in Afrikaans by te woon, jou nagraadse werk in Afrikaans te doen, jou navorsing in Afrikaanse tydskrifte te publiseer en jou boeke in Afrikaans te skryf?

My antwoord hierop is ’n duidelike ‘ja’. Afrikaanse akademici kan vandag, indien hulle hul werk in Afrikaans publiseer, steeds ‘gehoor’ en ‘gelees’ word. Ter motivering kan ten minste die volgende punte genoem word:

2.1) Afrikaanse akademici wat deur die sentrum ‘gehoor’ en ‘gelees’ wil word, vergeet dikwels watter diskriminerende kragte in die sentrum aan die werk is. Dit is kragte wat bepaal wie en wat regtig gehoor en gelees word.

Om werklik deur die sentrum gehoor en gelees te word, moet akademici vanuit die nie-Engelstalige wêreld bykans deur die figuurlike vuurhoepel spring. Alhoewel dit nie onmoontlik is nie, is dit heel onwaarskynlik. Daarvoor sorg genoemde kragte.

Zygmunt Bauman en Leonidas Donskis, wêreldbekende sosioloë, skryf in hulle essay, “Consuming University: The New Sense of Meaninglessness and the Loss of Criteria” dat nie-Engelstalige akademici (vanuit onder meer Oos-Europa, om nie eens te praat vanuit Afrika nie) bykans geen kans staan om akademiese poste aan enige van die groot Amerikaanse of Britse universiteite te kry nie. Dieselfde punt het betrekking op die kanse van nie-Engelstalige akademici om hul werk in sentrum-tydskrifte of deur sentrum-uitgewers gepubliseer te kry.

Dit laat ons met die eenvoudige vraag: Word hierdie akademici wat hulself buite die sentrum bevind en wat hul eie tale ten gunste van Engels verruil het, inderdaad gehoor? Word hulle skryfwerk werklik deur die sentrum gelees? Nog meer, het hulle verengelsing inderdaad goeie gevolge vir hulle loopbane as akademici gehad? Nee, lui die antwoord, omdat die periferie steeds – en soos hierbo aangevoer – as minderwaardig ten opsigte van die sogenaamde sentrum ervaar word, is hulle kanse op sukses (ondanks die opoffering van hul moedertale) uiters gering.

2.2) Laasgenoemde punt moet in samehang met ’n ander verskynsel op die globale ‘mark’ van akademiese publikasies gesien word, naamlik die verskynsel van oorversadiging.

Vandag is daar nie net ’n ooraanbod van akademiese personeel in die ‘sentrum’ nie (dikwels met tragiese gevolge vir akademici wat nie vaste betrekkinge kan kry nie), maar ook ’n ooraanbod van akademiese publikasies (onder meer in ’n magdom van Engelse akademiese tydskrifte).

Die gevolg van die ooraanbod is dat verreweg die meeste akademiese artikels nie gelees word nie. In die agtergrond hiervan is ’n kontradiksie aan die werk wat oor die globale wêreld heen sigbaar is: In weerwil van die feit dat akademici bitter graag in die globale wêreld gehoor en gelees wil word, word hulle vanweë die ooraanbod juis nie gehoor en gelees nie. In plaas daarvan om op die internasionale forums erkenning te kry, verdwyn hul publikasies tussen ’n bykans onoorsigtelike hoeveelheid van ander publikasies.

Een van die implikasies hiervan is dat akademici wat in hulle eie moedertale skryf, dikwels ’n groter kans staan om hoegenaamd gehoor en gelees te word as diegene wat in Engels skryf!

Laasgenoemde feit knoop ook aan ’n belangrike kwessie met betrekking tot die lokale aard van navorsing. Navorsing wêreldwyd spruit dikwels (natuurlik nie altyd nie) uit vrae en probleme wat binne ’n bepaalde historiese konteks ontstaan het, en waarop antwoorde binne daardie spesifieke konteks gesoek word. Kortom, navorsing is dikwels konteksgebonde.

Die implikasie daarvan is dat genoemde vrae en antwoorde nie noodwendig die totale globale gehoor van akademici interesseer nie. Inteendeel, dit interesseer slegs diegene wat hulself binne so ’n spesifieke historiese konteks bevind. En dikwels is lokale tale eenvoudig die beste instrumente waarmee lokale vrae aan die orde gestel en ook lokale antwoorde daarop gesoek kan word.

Om die belangrikheid van hierdie punt egter na behore in te sien en toe te eien, sal akademici deur die ‘koloniale mentaliteit’ moet breek. Slegs so sal hulle die voordele van lokaliteit en partikulariteit raaksien.

2.3) Vanweë die tegniese middele wat vandag beskikbaar is (soos onder meer die vordering met vertalingsdienste), is daar toenemend ook groter ondersteuning vir die gedifferensieerde benadering.

Vanweë die verhoogde vertalingsvermoë waaroor vandag beskik word, bestaan daar toenemend minder redes vir skrywers wat in Engels gelees wil word, om slegs in Engels te skryf. En die mees vanselfsprekende voorbeeld hiervan is die letterkunde. Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden hoef nie op te hou om in Afrikaans te skryf bloot om in die Engelstalige wêreld gehoor te word nie. Trouens, in en deur die vertalingsdienste wat vandag beskikbaar is, word Meyer, Van Niekerk en Van Heerden selfs ver buite die grense van net die Engelstalige wêreld gehoor en gelees.

Hoekom is dieselfde waarheid nie ook op die akademiese wêreld van toepassing nie?

2.4) Gaan ek werk kry as ek my universitêre opleiding in Afrikaans voltooi? Hierdie vraag word tot vervelens toe gestel. Ook hier is die gedifferensieerde benadering van groot praktiese belang.

Soos wat ons in die inleidende opmerkings aangevoer het, is vaardigheid in Engels noodsaaklik. Maar dit beteken nog nie dat Afrikaans onbelangrik geword het nie. Inteendeel, in ’n groot hoeveelheid beroepe is dit vandag steeds van die allergrootste belang dat die beroepsmens sy of haar wêreld in Afrikaans kan hanteer. Dit is waar van beroepe soos die onderwys, die ingenieurswese, die argitektuur, die kerke, die landbou, die mediese beroep, tegnici, ensovoorts. Laasgenoemde is almal beroepe waar beroepsmense steeds met groot getalle Afrikaanssprekendes te doen het wat hulle ten beste in Afrikaans kan dien.

Kortom, eentaligheid in die universitêre lewe is glad nie die enigste uitweg nie. ’n Gedifferensieerde benadering dui op ’n praktiese uitweg anderkant die verstikkende aard van ’n eentalige wêreld.

Prof. Goosen is voorsitter van die FAK-direksie.