| | |

#AfriForumStaanSaam vir Skole: Versoeke vir hulppakkette stroom in

AfriForum en AfriForum Jeug het op 5 Junie 2020 nóg skolehulppakkette na skole landwyd versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek. Dít volg nadat honderde skole dié burgerregtewaghond om hulp genader het aangesien hulle steeds nie hulp van die Departement van Onderwys ontvang het om veilig te heropen nie. Altesaam 300 pakkette is vandag versprei sodat dit skole in die week van 8 Junie 2020 bereik wanneer skole voorlopig vir gr. 7- en gr. 12-leerders open.

Die skolehulppakket bestaan uit COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.

AfriForum se gemeenskapstrukture het reeds talle skole ontsmet en meer as 40 000 eenhede handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers is reeds met hierdie projek aan skole landwyd versprei.

“AfriForum sal nie toekyk hoe skole onder swak kommunikasie en die onbevoegdheid van die Departement van Basiese Onderwys ly nie. AfriForum staan saam vir skole en beskou hierdie pakket as ’n noodsaaklikheid vir alle skole. Ons is bly dat ons skole op hierdie manier kan bystaan,” sê Carien Bloem, bestuurder vir Onderwys by AfriForum.

“Terwyl die staat op die beperking van produkte en dienste fokus, vergeet hulle van hulle verantwoordelikheid teenoor die jeug. Dit is waarom ons organisasies personeel en leerders met hierdie inisiatief ondersteun,” sê Bernard Pieters, bestuurder vir AfriForum Jeug.

Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, vorm die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek deel van AfriForum se COVID-19-gemeenskapsplan om gesondheid in gemeenskappe tydens die pandemie te bevorder. “Dit is geen verrassing dat die staat nie wil of kan help om ons skole gereed te kry vir heropening nie. AfriForum se takke spring nou in om gemeenskappe wat hulself wil help, by te staan,” verduidelik Kruger.

  • Kyk die Forum Nuus-video van die eerste verspreiding hier.

Soortgelyke plasings