| | |

#AfriForumStaanSaam vir Skole: Skolehulppakkette bied verligting aan skole landwyd

Die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek, wat in samewerking met AfriForum se gemeenskapstrukture en AfriForum Jeug van stapel gestuur is, het honderde hulppakkette aan skole landwyd gestuur. Die doel van hierdie pakkette is om skole by te staan wat op 1 Junie 2020 gereed moet wees om gr. 7- en gr. 12-leerders te ontvang. Die skolehulppakket bestaan uit COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.

AfriForum het vandeesweek met hierdie skolehulppakkette reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole versprei. 73 pakkette is vandag oor die hele Gauteng versprei. Die waarde van een pakket beloop R6 500. AfriForum se takke het ook gehelp om talle skole te ontsmet.

“AfriForum beskou hierdie pakkette as ’n noodsaaklikheid vir elke skool en daarom het ons besluit om uit te reik na skole in gemeenskappe wat nie deur die staat ondersteun word nie. Honderde skole het versoeke aan AfriForum gerig vir die skolehulppakket omdat hulle eenvoudig geen beskermende drag en materiaal van die Departement van Onderwys ontvang het nie, of nie naastenby genoeg ontvang het om aan hulle behoeftes te voldoen nie,” sê Carien Bloem, bestuurder vir Onderwys by AfriForum.

Soortgelyke plasings