| | |

#AfriForumStaanSaam vir Skole: Projek skop af om honderde skole gereed te maak vir heropening

Die burgerregteorganisasie AfriForum skop vandag sy #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek af om skole te help om gereed te maak vir heropening. AfriForum se gemeenskapstrukture en AfriForum Jeug het honderde sanitasiehulppakkette na skole regoor die land versprei, terwyl AfriForum se takke ook vandeesweek in alle erns begin om skole met reinigingsmiddel te ontsmet.

Die nood vir die pakkette en die ontsmetting het ontstaan nadat talle skole aangedui het dat hulle geen hulp van die staat ontvang nie, maar gereed moet wees vir die heropening vir gr. 7- en gr. 12-leerders op 1 Junie 2020.

Dié hulppakket voorsien skole van inligtingstukke; plakkate oor ’n veilige klaskamer en higiëne; ’n hulpbrongids vir ouers, onderwysers en leerders; elektroniese koorsmeters; asook handreinigers.

“AfriForum beskou hierdie pakkette as ’n noodsaaklikheid vir elke skool en daarom het ons besluit om uit te reik na skole in ons gemeenskappe wat nie deur die staat ondersteun word nie. Met hierdie pakkette behoort ons ook ’n mate van finansiële verligting aan hierdie skole te bied aangesien die koste met betrekking tot die ontsmetting van skole baie hoog is en talle skole sukkel om dit by te bring,” sê Carien Bloem, AfriForum se bestuurder vir Onderwys.

Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, vorm die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek deel van AfriForum se COVID-19-gemeenskapsplan om gesondheid in gemeenskappe gedurende die pandemie te bevorder. “Dit is geen verrassing dat die staat nie wil of kan help om skole gereed te kry vir heropening nie. AfriForum se takke spring nou in om gemeenskappe wat hulself wil help by te staan met hierdie belangrike stap om skole operasioneel te kry.”

Soortgelyke plasings