| | |

#AfriForumStaanSaam vir Skole: AfriForum se Bronkhorstspruit- en Pretoria-Wes-tak voorsien hulppakkette aan skole

AfriForum se Bronkhorstspruit- en Pretoria-Wes-tak het ses hulppakkette aan skole versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.

Die volgende skole het pakkette ontvang: Hoërskool Erasmus, Laerskool Du Preez van Wyk, Nooitgedacht Akademie, Aletheia Christelike Akademie, Laerskool Balmoral en Laerskool Simon Bekker.

“Dit is ’n voorreg om skole in hierdie tyd by te staan en om seker te maak dat hulle voorbereid is om die 2020 akademiese jaar voort te sit. Skole het nie vir hierdie ekstra uitgawes begroot nie en daarom is dit vir AfriForum belangrik om skole by te staan,” sê Magda Lewis, voorsitter van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak

“AfriForum het baie versoeke van skole ontvang omdat hulle onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se takke aan die skoleprojek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig terug kan keer skool toe,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Al die skole is baie dankbaar vir die steun wat hulle ontvang en dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe almal saamspan om die beste van die situasie te maak,” sê Steinberg verder.

AfriForum het reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole landwyd versprei.

AfriForum se Groter Pretoria-takke wil graag nóg skole ondersteun in die uitdagende tye wat voorlê om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die takke moedig gemeenskappe daarom aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS jou naam na 45341 (R1) en word deel van die oplossing.

 

Soortgelyke plasings