|

#AfriForumStaanSaam met skenkings van maskers en handreiniger

AfriForum het vandag ’n veldtog van stapel gestuur om handreiniger en maskers te skenk aan tehuise vir bejaardes en persone wat in die veiligheids-, nood- en gesondheidsdienste werk, asook kwesbare mense wat nie genoegsame beskerming teen die opdoen van COVID-19 het nie. Dié veldtog is vandag afgeskop met die oorhandiging van meer as 1 000 botteltjies handreiniger aan lede van die Tshwane-metropolisie.

Hierdie veldtog maak dit vir die publiek moontlik om ’n geldelike bydrae te maak wat AfriForum sal help om maskers en handreiniger aan tehuise vir bejaardes, nooddienswerkers en mediese personeel te voorsien.

AfriForum het ook vandag ’n brief aan die Minister van Polisie, Bheki Cele, gerig waarin die burgerregte-organisasie aandui dat hulle graag saam met enige rolspelers wil werk om die gemeenskaplike vyand, nl. COVID-19, te beveg.

“AfriForum is steeds vasberade om voort te gaan met hierdie veldtog om diegene wat op die voorste linies is te help beskerm teen besmetting met die koronavirus. Dit is belangrik dat nooddiens- en gesondheidswerkers toereikende beskermende toerusting het, omdat hulle met die publiek werk – dit is dus vir hul eie, sowel as die gemeenskap se veiligheid,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“Ná AfriForum onlangs handreiniger aan die polisie geskenk het, word die organisasie oorval met versoeke daarvoor, asook vir maskers. Lede van die polisie, mediese dienste en ander nooddienste van regoor die land het al versoeke ingedien. Dít volg ten spyte van SAPD-bevelvoerders wat gister AfriForum se skenking van handreiniger geweier het, nadat die burgerregte-organisasie verskeie skenkings aan SAPD-stasies in Gauteng gemaak het. Ons het juis hierdie skenkings gemaak omdat duisende polisielede aangedui het dat hulle nie voldoende toegerus is nie,” sê Cameron.

Volgens dr. Eugene Brink, AfriForum se bestuurder vir gesondheid, is dit veral werkers in nood- en gesondheidsdienste wat bekommerd is omdat hulle sonder voldoende beskerming noodsaaklike dienste aan die publiek moet lewer.

“As burgerregte-organisasie is AfriForum vasberade om te help dat broodnodige beskerming aan nooddienswerkers voorsien word, om die verspreiding van die koronavirus te help bekamp. Kwesbare groepe soos bejaardes sal ook gehelp word,” sê Brink.

Lede van die publiek wat ’n bydrae van R10 tot dié veldtog wil maak vir die skenking van handreiniger of maskers aan tehuise vir bejaardes en nooddienswerkers kan die woord “Korona” SMS na 38310.

Soortgelyke plasings