--> -->
Spyskaart +

AfriForum word ’n tak en buurtwag sterker

November 7, 2018 deur Hesti Steenkamp

AfriForum het op 18 Oktober 2018 ’n tak en buurtwag in Thabazimbi gestig. Dít volg nadat lede van die gemeenskap die behoefte aan ’n AfriForum-tak uitgespreek het in die hoop dat swak dienslewering, veiligheidskwessies en omgewingsprobleme in Thabazimbi en omliggende gebiede getakel kan word.

Die nuwe takbestuur bestaan uit: Pieter Welgemoed (voorsitter), Pieter Eloff (ondervoorsitter), Jackie Theunissen (sekretaris) en Ina Opperman (tesourier), met Pieter Roets as buurtwagvoorsitter en Hendrik Lottering as buurtwagkoördineerder.

“Dit is goed om te sien dat Thabazimbi se inwoners saamstaan om ’n positiewe verskil op dié dorp te maak. Dit is ons plig as burgerregte-organisasie om daadwerklik namens die gemeenskap by kwessies waar die munisipaliteit en regering versuim om hul pligte na te kom, betrokke te raak,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg.

“Ek dink dit is tyd dat die Thabazimbi-gemeenskap self verantwoordelikheid vir hul dorp neem en vir hul regte opstaan. Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om by dié AfriForum-tak aan te sluit en ons te ondersteun,” sê Pieter Welgemoed, voorsitter van AfriForum se nuwe Thabazimbi-tak.

Raak vandag betrokke deur “Thabazimbi” na 45340 (R1) te SMS.