AfriForum word ’n tak en buurtwag sterker


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op Maandag 29 April 2019 ’n tak en buurtwag in Roodeplaat gestig. Dít volg nadat lede van die gemeenskap bymekaargekom het en die behoefte aan ’n AfriForum-tak – wat swak dienslewering, veiligheidskwessies en omgewingsprobleme in die dorp en omliggende gebiede kan aanpak – uitgespreek het.

Die nuwe takbestuur bestaan uit Pieter Malan (voorsitter), Lulu Allers (ondervoorsitter), Nesta Malan (sekretaris), Carl Jordaan (tesourier), Carel Nagel (omgewingsake) en Pieter Malan (jeug). Vir die buurtwag is Carel Venter as voorsitter en Conrad Meyer as koördineerder aangewys.

“Ons is bly om te sien hoe die gemeenskap saamstaan om ’n positiewe verskil in die dorp te maak. As burgerregte-organisasie is dit ons plig om ons regte op te eis en ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak, veral waar die munisipaliteit en regering versuim om hul pligte na te kom,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
“Dit is tyd dat die gemeenskap verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid en welstand aanvaar en vir hul regte opstaan. Ek doen ’n beroep op die Roodeplaat-gemeenskap om by die plaaslike AfriForum-tak aan te sluit en ons te help om ’n positiewe verskil te maak,” sê Pieter Malan, voorsitter van AfriForum se nuwe Roodeplaat-tak.

Raak vandag betrokke: SMS “Roodeplaat” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings