--> -->
Spyskaart +

AfriForum woon 17de Internasionale Konferensie vir Minderheidstale in Leeuwarden by

Mei 23, 2019 deur Mareli Rall

Vandeesweek woon Alana Bailey van AfriForum die 17de Internasionale Konferensie vir Minderheidstale in Leeuwarden by, waar sy ook vanmiddag ’n referaat oor taalbeleid in Suid-Afrika sal lewer.

Die nagenoeg 250 konferensiegangers van oor die wêreld is vanoggend deur dr. Willem Smink, uitvoerende hoof van die Friesiese Akademie (Fryske Akademy in Friesies), verwelkom. Hy het genoem dat die konferensie des te meer van belang is omdat dit in dieselfde week as die EU se parlementêre verkiesings plaasvind. Hy het beklemtoon dat groot internasionale tale nodig is vir interkulturele kommunikasie, maar minderheidstale is net so, of selfs nog meer noodsaaklik, omdat dit die sprekers daarvan in staat stel om met hulle eie identiteit, oorsprong en erfenis kontak te hou en hulleself akkuraat uit te druk.

Baie gaan verlore in vertaling of tolking. As jy werklik iemand se gevoel wil kan beleef en verstaan, moet jy sy of haar taal ken en verstaan, het hy bygevoeg.

Tans is daar sowat 7 000 tale in die wêreld, waarvan ongeveer een per week uitsterf. Dit bedreig ook die wêreld se kulturele diversiteit. Dit is dus ons plig om ook die regte van minderheidstale te beskerm en die tale te bevorder.

Die openingspreker van die konferensie was dr. Delyth Prys van Bangor Universiteit in Wallis. Haar referaat het oor taalherlewing deur die gebruik van taaltegnologie gehandel.

Sy het begin deur te verwys na die akademikus David Crystal wat al in 2000 in sy boek Language Death genoem het dat vir ’n bedreigde taal om te oorleef noodsaaklik is dat die taal tegnologies ingespan moet word.

Tegnologie staan vandag sentraal in die oordrag van tale. Nuwe tegnologie maak gewoonlik van Engels gebruik, so as ons daarby volstaan, leer ons kinders van kleins af om dit net in Engels te gebruik en so vervreem ons ons kinders al meer van hulle tale, het sy verduidelik.  Die oplossing is dat die tegnologie dus ook in die kind se moedertaal beskikbaar moet wees.

Tegnologie soos rekenaar- en aanlyn vertalingsprogramme vorder en verbeter dramaties en as kleiner tale nie hiermee byhou nie, raak oorlewing al moeiliker. 

Verder moet ’n taal ook aan die skeppers van tegnologie kan bewys dat dit ekonomies sin maak om die taal in hulle ontwikkeling in te sluit. Dit is dus noodsaaklik vir die taal se sprekers om bande met die tegnologiesektor te bou. Tale kan nie altyd ’n welsynsaak wees nie, dit moet ook kommersieel lewensvatbaar bly. 

Politieke wil is nodig vir die oorlewing van tale, maar dit is nie al wat nodig is nie. Ons kan ook ons tale bemagtig met selfhelpaksies en vrywilligerswerk deur lede van die gemeenskap self, internasionale netwerkbou met ander kundiges en selfs moderne fondswerwingstegnieke soos skarebefondsing.

Van die maniere waarop ons ons tale so deur tegnologie kan help, is deur inskrywings vir Wikipedia in ons eie tale te doen (soos wat die Solidariteit Beweging se Maroela Media reeds doen!), om aan die Common Voice-projek deel te neem en tegnologie ook in ons eie tale te gebruik om die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan te bewys, het sy ten slotte beklemtoon.

Reeds aan die begin van die konferensie is daar interessante wetenswaardighede en praktiese wenke waarvan ons as Afrikaanse gemeenskap moet kennis neem. Deur die loop van die week sal Alana weer terugvoer oor die verrigtinge gee.