|

AfriForum woeker om vullisterreine reg te ruk

Net 6 van die 56 vullisterreine wat AfriForum vanjaar geoudit het, voldoen aan 80% of meer van die minimum vereistes wat beteken dat 50% van munisipaliteite nie hul verantwoordelikheid rondom behoorlike afvalbestuur nakom nie.
Volgens Jaco Grobbelaar, omgewingskoördineerder by AfriForum, is dit duidelik dat die bestuur van huishoudelike afval in Suid-Afrika tans vele uitdagings in die gesig staar.

Luidens ’n 2012-verslag oor die toestand van die omgewing is daar bereken dat 42 miljoen kubieke meter huishoudelike afval en 5 miljoen kubieke meter gevaarlike afval jaarliks gegenereer word. Die nie-nakoming van behoorlike vereistes by stortingsterreine besoedel die lug, die omgewing en waterbronne. “Dit mag nie geduld word nie, want dit raak gemeenskappe se gesondheid en veiligheid direk,” het Grobbelaar gesê.

AfriForum het in 2014 die #skoonSA-inisiatief begin wat daarna streef om ’n positiewe verandering in die bestuur van vullis regoor die land teweeg te bring. Uit dié inisiatief het die projek Moenie met ons rommel mors nie voortgevloei. Die projek is daarop gemik om die minimum nakomingsvereistes van stortingsterreine in munisipaliteite van AfriForum se 130 takke te oudit en dit met hul vullisbestuurslisensies te vergelyk.

Onvoldoende afvalbestuur, die ineenstorting van infrastruktuur, korrupsie, gesondheids- en veiligheidskwessies, aardverwarming en besoedeling het dit genoodsaak dat die burgerregte-organisasie tot die stryd toetree om burgers se grondwetlike regte te beskerm.
AfriForum het verlede jaar 83 vullisterreine geoudit teenoor vanjaar se 56. Dit afname kan toegeskryf word aan die feit dat ingrypingsaksies daartoe gelei het dat van die terreine tot so mate herstel het dat dit nie nodig was om dit weer te oudit nie.

Die aantal vullisterreine in die nege provinsies wat vanjaar geoudit is en nie aan die minimum-vereistes voldoen nie, is Wes-Kaap (3), Noord-Kaap (5), Oos-Kaap (6), Vrystaat (10), Mpumalanga (7), Gauteng (4), Limpopo (6), KwaZulu-Natal (3) en Noordwes (6).
In die onderskeie provinsies is die swakste vullisterreine in Machadodorp (16%) in Mpumalanga, Heidelberg (32%) in Gauteng, Delareyville (8%) in Noordwes, Ladismith (36%) in die Wes-Kaap, Williston (8%) en Springbok (8%) in die Noord-Kaap, Petrus Steyn (8%) en Brandfort (4%) in die Vrystaat, Paul Pietersburg (4%) in KwaZulu-Natal, Louterwater (8%) in die Oos-Kaap en Leeupoort (24%) in Limpopo.

’n Vullisterrein moet 80% kry om aan wetgewing te voldoen. Die beoordeling van die terreine is gedoen op grond van ’n vraelys met 25 vrae.
Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, het gesê die oudit van stortingsterreine toon dat politieke wil nodig is om afvalbestuur volhoubaar te maak.
“Uit vanjaar se verslag is dit duidelik dat die gehalte van afvalbestuur en die bestuur van vullisterreine sedert verlede jaar verder agteruitgegaan het. Dit hou verband met ’n gebrek aan bestuur en munisipaliteite se verontagsaming van hul verantwoordelikheid.

“Wanbestuur van vullisterreine word onder meer veroorsaak deur korrupsie, gebrek aan leierskap en aanspreeklikheid, volslae minagting van wetgewing, onvoldoende fondse vir rehabilitasie en wanbesteding van fondse,” meen Kleynhans.
Hy het gesê die verslag sal aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek na vullisterreine wat nie aan minimum vereistes voldoen nie.

Die koördineerders van AfriForum wat aan dié omvattende projek gewerk het, is Chris Fourie (KwaZulu-Natal), Johann Hattingh (Wes-Vrystaat), CW Els (Oos-Vrystaat), Lambert de Klerk (Noord-Kaap), Marcus Pawson (Noordwes en Gauteng-Suid), Hein Gonzales (Mpumalanga), Stefan Pieterse (Noord- en Wes-Kaap) Alta Swart (koördineerder: Vryburg-tak) en Morné Mostert (Limpopo).

Lees die volledige verslag hier

Soortgelyke plasings