AfriForum wil vanjaar op oplossings fokus tydens vullisterreinouditprojek


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek by die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi van stapel gestuur. Hierdie vullisterrein het in 2016 volgens AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditverslag aan slegs 36% van die minimum vereistes voldoen, maar verlede jaar, ná AfriForum se volgehoue druk op die munisipaliteit, ’n handomkeer prestasie van 80% behaal.

“AfriForum sal vanjaar weer eens landwyd vullisterreinoudits doen. Dié oudits word gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein volgens wetgewing moet voldoen. Die organisasie gaan poog om 120 vullisterreine in die volgende vier weke te oudit in dié gebiede waar gevestigde AfriForum-takke geleë is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem en saam met voorstelle vir verbetering aan die departement van omgewingsake oorhandig word,” sê Chris Boshoff, koördineerder van omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregtewaghond gaan verder na afloop van die projek in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in lande soos Swede en China.
Volgens Frans Dekker, hoof van vullisterreine in die Tshwane-metro, is oudits soos hierdie van kardinale belang om tekortkominge uit te wys, asook om aan te dui waar verbeteringe kan plaasvind.

“Elke lid van die publiek het egter steeds ’n verantwoordelikheid om self herwinning toe te pas.”

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, meen dat AfriForum-takke ’n baie belangrike waghondfunksie vervul ten opsigte van gesonde omgewingsbestuur.

“Ons en ons nageslag het die reg op ’n gesonde omgewing wat nie ons gesondheid benadeel of die omgewing besoedel nie. Elke vullisterrein het ’n lisensie wat vereis dat dit deur onafhanklike partye geoudit word. AfriForum verskaf ’n platform hiervoor aan gemeenskappe.”

In 2017 het 78% van die 105 vullisterreine wat geoudit is nie aan die minimum standaarde voldoen nie. AfriForum vervul ’n waghondfunksie, maar is terselfdertyd selfdoen- en oplossingsgeoriënteerd om die verskeie uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied. Sodoende kry gemeenskappe meer seggenskap oor sake wat hulle direk raak.
Ondersteun AfriForum se vullisterreinouditprojek: SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings